|
Ses belangrike riglyne om 'n
Herlewingsprediker of Evangelis
te toets!
Van tyd tot tyd verskyn daar 'n nuwe profeet/
prediker op die horison. Dit is nie altyd iemand wat ons sal beskryf as
'n 'harde kultus-' of 'n ekstremiste figuur wat die kern waarhede van
die Bybel verloën soos die Godheid van Christus, Sy opstanding en die
Bybel nie. Dit is nie iemand soos Sun Myung Moon (bekend as die Moonies
in Amerika) wat homself as eksklusief, 'n middelaar of as as 'n god beskou nie. Dit is nie iemand soos die
'profeet Joshua' van 'n tyd
gelede wat duidelik moedswillig onskriftuurlik werk en baie mislei het
nie. Die aanslag is baie meer subtiel.
Omdat die Here ons as 'Toetsers' (Jer 6:27; 1 Joh
4:1) aangestel het, vra dit nou fyner onderskeiding. Van elkeen word nou
verwag om fyner te kyk en te luister. Waaroor praat mense wat die
dienste besoek? Wat het indruk gemaak? Watter ervaring het hom
aangespreek? Waarom was dit wonderlik om die dienste by te woon? Wat het
hom getref en waaroor praat so 'n persoon? Luister goed na dit wat hom
opgewonde maak, want dit sê dalk baie oor die prediker.
Christene wil weet: "Hoe kan 'n evangelis beoordeel
word?" Hier is 'n aantal vrae wat as 'n algemene riglyn kan help om
rondreisende predikers te toets.
Toets met die volgende vrae:
1. Word Jesus afgeskilder asof Hy so pas onder ons
gekruisig is?
Meeste naïewe christene is tevrede as die naam van
Jesus volop soos konfetti gestrooi word gedurende die preek. Jesus se
naam word soms alternatiewelik vir God gebruik sonder dat die
vergrootglas werklik op Christus en Sy versoeningswerk geplaas word. As
die naam van Jesus met die van God vervang sou word, sou dit geen
betekenis verandering aan die preek gebring het nie. Ander praat van die
Here, 'n Here so vaag dat niemand kan uitmaak watter 'Here' dit is nie?
Daar is baie 'Lords'! Is dit 'Lord' Hare Krishna, 'Lord' Allah of is dit
die Here Jesus Christus?
Oppervlakkig geluister klink alles so goed, maar daar
word nie uit daardie diens gekom met 'n groter bewondering en waardering
van "what a Christ, what a Christ...!" God word tog in Sy Seun
verheerlik. (Joh 14:13) Die vraag moet dus wees: 'Is Christus so werklik,
so entosiasties en so passievol afgeteken asof so pas te midde
van die hoorders, terwille van die hoorders, gekruisig?' (Gal
3:1) Is mense so aangegryp en stomgeslaan deur God se unieke,
geen-alternatiewe verlossingsplan in Christus? Het die prediking mense
so wakker gemaak met 'n waardering en nuwe begrip en verstaan van
waarhom Hy daar gehang het? Dat toe Christus daar gehang het, Hy dit
onder my naam gedoen het, namens my gely het, namens my klaar gestraf is
en ek daarom nou met God versoen kan word? Voordat mense nie hierdie
Heilige Gees gewerkte waardering vir die Seun van God het nie, sal al
die mooi klinkende Bybelse raad oor die huwelik, geloof, priesterskap
van die man, die toestand van land, ens. slegs oppervlakkig en tydelik
wees. Christus is die esensie van die saak, die spilpunt waarom alles
draai.
2. Watter Jesus word verkondig?
Daar is meer as een Jesus op die geestelike mark.
" Want as iemand kom en 'n ander Jesus
verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees
ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as
wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval."( 2Co 11:4)
Hoe lyk die ander Jesus?
a. Jesus Christus het altyd na Sy Vader
verwys. Nie minder as 58 keer praat Jesus van 'my Vader', bv: "As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê
het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader
groter is as Ek." (Joh 14:28) Dit was nie 'n Jesus los van of
buite die konteks van die Drie-eenheid, sonder die Vader en die
Gees nie (Lees die boek van T. A. Smail: "The Forgotten Father").
By ander sê Jesus kan ons praat van 'n "twee-eenheid"; dit is
net Jesus en die Gees wat altyd ter sprake is. 'n Jesus wat op
sy eie figureer is 'n kultiese Jesus, 'n ander Jesus.
b. Die ander Jesus is 'n sentimentele
Jesus. Onder ongelowiges word die ander Jesus
eensydig bemark as "Jesus loves you" of God het u lief sonder om
die anderkant te stel. Die bedoeling is goed nl. om verlore
mense tot geloof te bring, maar dit dra die verkeerde boodskap
aan ongelowiges wat in sonde leef oor. Die boodskap is dat 'n liefdevolle Nuwe Testamentiese God sondaars nie sal straf of hel
toe stuur nie.
Dit is waar dat God liefde is, maar die
verlore mens moet verstaan hoe sy sonde sy verhouding met God
raak. Dat sy sonde hom 'n vyand van God maak en 'n skeidingsmuur
tussen hom en God is.
Voordat mense nie verstaan dat hy van nature
'n kind van die toorn is nie en dat sy sonde hom 'n vyand van
God maak (en nie net iemand is wat God lief het nie!), sal
daar by die mense geen erenstige en desperate begeerte en poging
wees om sy verwoeste verhouding met God reg te stel deur met die
sonde te breek nie. Daarom is mense nie meer bang vir God nie.
Die vrees van die Here het 'n vreemde begrip geword gekoppel aan
"Fire and brimstone"- predikers en is 'n etiket vir
fundamentaliste. Judas (1:23) gee die erns waarmee mense
gewaarsku moet word, nl. "maar ander moet julle met vrees red
deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat
wat deur sonde bevlek is."
Dié 'sentimentele liefdevolle Jesus' verskil
hemelsbreed van die regverdige God wat daarop aandring dat 'n sondaar sy weg moet verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes en
dat hulle hul tot die Here moet bekeer (Jes 55:7), omdat hy nou
die tye van onkunde oorgesien het (Hand 17:30). Dit verkondig 'n vreemde en on-Bybelse godsbegrip. Waar is die geroepe
boodskappers van God wat so preek dat mense weer 'n heilige
respek en eerbied vir God sal hê?
c. Die ander evangelie is 'n goedkoop
evangelie. Spesiale 'afslag' kenmerk dié 'discount gospel'.
Die kenmerk is 'n gebrek aan 'n voorwaarde tot 'n breuk en 'n afstand doen van van sonde. Dit is
'n evangelie sonder die
noodsaaklike kosteberekening. (Luk 14:28)
Baie min evangeliste en predikers preek vandag nog
bekering van sonde. Mense word genooi om te kom vir genesing, of om 'n oorgawe te maak of-/en gedoop te word sonder die appél om eers met hul
sonde te breek. Duisende steek hul hande op vir 'n sentimentele 'Jesus
aanneem'- seremonie sonder hartgrondige berou en 'detail' belydenis van
spesifieke sondes. Die onbybelse "sondaarsgebed" waar mense voorgesê
word wat hul moet bid, het vir baie 'n valse gerustheid gegee dat hulle
op grond van so 'n gebed met God versoen is. Sulke mense word mislei en
gehelp in 'n valse oorgawe, en daarna salig of gered verklaar op grond
van 'n gebed wat hulle gebid het. Na hul sg.
bekering of oorgawe verander niks nie! Hulle bly nog in hul ou gewoontes
en verslawende sondes. Hulle lyk en ruik nog soos die ongeredde wêreld.
Jesus stuur die rykjongman weg om eers sy sonde uit
te sorteer voordat Hy hom kan help. Paulus sê dieselfde.
"Daarom, koning Agríppa, was ek aan die hemelse gesig nie
ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in
Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat
hulle tot inkeer (metanoia) moet kom en hulle tot God bekeer (metanoia)
deur werke te doen wat by die bekering (metanoia) pas." (Hand 26:19)
"Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil
skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van
die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles
prysgegee het en as drek (eng.- dung, shit) beskou, om
Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my
geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in
Christus is. (Fil 3:7-9)
Evangelisasie is nie om vir mense te sê: "Kom na
God net soos julle is! Kom met julle drek!" nie. Nee! Bekering is om my
rug te draai op die dinge wat God se Gees bedroef. Dit kan beteken om
uit 'n verkeerde verhouding pad te gee of om met verslawende sondes te
breek. Dit kan restitusie beteken of om sondige praktyke te laat staan
of om met slegte gewoontes te breek. Dit kan selfs beteken om my te
bekeer van my idee om deur my goeie werke in die hemel te kom.
"Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis
kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom". (
Hand 3:19)
Word sonde by die naam genoem? Sondeprediking moet
tot sy reg kom. Mense moet uit die Bybel ingelig word dat God die sonde
haat en dat sonde 'n muur tussen God en mens bring en predikers moet
sorg dat mense duidelik oor sonde ingelig word. As hy nie bereid is om
dit op God se manier te doen nie, laat hy eerder stilbly. Daar is nie
afslag vir sekere predikers dat hulle die pyn gespaar word om nie oor
sonde te preek nie omdat hul bediening sg. anders is!?
Sekere sondes gee niemand aanstoot nie soos sekere
algemene sosiale ongerymdhede wat nie noodwendig op tone trap nie. Ander
sondes sal baie ander woedend maak al word dit net genoem. Probeer maar
om vir 'n Karate instrukteur te sê Karate is verkeerd! Probeer om vir
iemand wat sy lewe maak uit alternatiewe genesing soos Homeopatie,
Refleksiologie, Joga ea. te sê dat hy met 'n okkultiese praktyk besig
is! Die duiwel is los as jy dit doen!
Omdat sommige evangeliste sonde versigtig hanteer uit
vrees dat dit aanstoot by die hoorders kan gee, is die resultaat massa
bekerings, groot kerke en populêre predikers. Jesus sê: "Die wêreld kan
julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy
werke boos is." (Joh 7:7) "Onthou die woord wat Ek vir julle gesê
het: 'n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg
het, sal hulle jul ook vervolg." (Joh 15:20)
"As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My
voor julle gehaat het." (Joh 15:18)
"Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie
na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie." (Joh 3:20)
3. Is die appél op die hoorder se logika of op sy emosies?
"Ek het hoendervleis gekry, ek kon my emosies nie
beheer toe...! Baie het trane afgevee. Dit was 'n wonderlike belewenis
saam met so baie Christene..." ...ens. Ons leef in 'n tyd van geestelike
depressie en van finansiële resessie. Mense het 'n geweldige groot
behoefte om beter te voel, om 'n "kick" te ervaar, eerder as om in die
regte verhouding met God te kom. 'n Emosionele ervaring wat iemand
tydelik beter laat voel, kan maklik vertolk word as 'n geestelike
ervaring en ontmoeting met God. Dit is 'n vorm van misleiding. Dit is
die waarheid wat mense vrymaak. Die werking van die Heilige Gees en ware
herlewing mag nooit losgemaak word van die Bybelse Woord m.b.t Jesus
Christus en die uitleg daarvan nie. Jesus het gesê in Joh 6:63: "Dit is
die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie;
die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees
en is lewe." Paulus noem in Rom 1:16 die Evangelie die
krag van God tot redding vir elkeen wat glo. In Ef 1:13 verwys Paulus na
die evangelie as die "woord van die waarheid, die evangelie van julle
redding." Die Gees werk deur die Woord!
Niks kan die lewendmakende krag van die Skrif vervang nie - nie mooi
musiek, genesings, sprekers charisma of wonderwerke nie! DIE LEWENDE
WOORD IS EN BLY DIE ONVERGANKLIKE SAAD WAARDEUR GOD BEPAAL HET dat DIE
MENS GEWEDERBAAR SAL WORD (1 Pet 1:23)
Mense moet verstaan, sê Jesus in Matt 13:19: "As iemand die woord van
die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die bose en
roof wat in sy hart gesaai is - dit is hy by wie langs die pad gesaai is."
Ef. 1:17-19 : "...dat die God van onse Here
Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van
wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle
verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die
rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat
die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking
van die krag van sy sterkte..."
As mense nie werklik deur die werking van die Heilige
Gees verstaan en 'n waardering vir die gekruisigde en opgestane
Christus het nie, sal geen blywende verandering van lewens so 'n
reeks dienste kenmerk nie. Oppervlakkige en
kortstondige bekering is gewoonlik die vrug van verganklike saad (mooi
musiek, genesings, sprekers charisma of wonderwerke) wat gesaai is.
4. Van wanneer af is die waarheid gewild?
Ons sê maklik: 'Dis herlewing.' Is dit werklik
herlewing? Wanneer die Bybel die laaste dae beskryf as 'n tyd van groot
afval en misleiding, kan ons maklik nog aanvaar: "Dis herlewing...?" Populariteit en groot getalle is nie noodwendig herlewing nie en is nie
sinoniem met die waarheid nie. A. W. Tozer het die opmerking gemaak: "It
is scarcely possible in most places to get anyone to attend a meeting
where the only attraction is God." Daarom moet enige populêre
prediker wat dit reg kry om groot massas mense te trek, getoets en
bevraagteken word. "Jesus has always had more fans than followers, and
many people attracted by his personality, fascinated by his power or
impressed by his teaching have never truly submitted to him as the Lord
of their lives." (J Blanchard & Dan Lucarini: Can We Rock The Gospel)
Ons het die een na die ander 'profeet' gesien wat die
afgelope jare gekom en dan na 'n tyd weer verdwyn het. Sommige was meer
en ander minder herkenbaar as twyfelagtige predikers of valse profete.
Elke keer word hulle vir 'n tyd deur die aandag in die sensasionele
media gedra. Elke keer is mense maar weer mislei. Wanneer gaan ons leer
om met die maatstaf van die Bybel, die predikers te toets?
5. Is die prediker onder gesag?
Die grootste verantwoordelikheid wat aan enige mens
toevertrou kan word, is die verkondiging van die woord. Tog vind ons dat
baie predikers die bediening betree met min en in sommige gevalle met
geen Bybelskool opleiding nie. Dit hoef geen probleem te wees nie indien
hy onder die sambreel van die meerdere kennis van ander Christene werk.
Paulus maan Timothius in 2 Tim 2:15 om hom beproef voor God te stel as
'n werker wat hom nie hoef te skaam nie en hy waarsku Timotheus teen die
dwaalleer wat Himeneus en Filetus verkondig het.
Enigeen kan dwaal. Daarom
is dit nodig vir elke prediker, evangelis of 'profeet' om onder
gesag, toesig of 'n sambreel te werk. Waar hierdie beskerming nie
bestaan nie, ontstaan die teelaarde vir hoogmoed, arrogansie en
dwaalleer. Dit is die waarde van 'n span dat hulle vir mekaar 'n korrektief kan wees.
'n Belangrike vraag moet dus altyd wees: 'Onder wie
se toesig werk hy?' Is die prediker 'n "Lone ranger"? Is dit net hy wat
preek en vir die siekes bid? Is hy alleen die begaafde kanaal van die
Heilige Gees? Is dit net sy naam in tydskrifte en reklame borde? Is sy
bediening nie maar net 'n 'ego-trip' nie?
Daar is baie voorbeelde van sulke "Humpty-dumpty's",
situasies waar so ‘n 'annointed', gesalfde of begaafde hoog op 'n troontjie gesit word en vir
'n tyd al die aandag en reklame geniet, maar
die einde blyk "a great fall" te wees.
6. Is hy radikal 'charismaties'?
Binne die charismatiese beweging is daar 'n vuil
stroom water wat baie naiëwe christene siek maak, mislei en onder die
mag en invloed van 'n ander gees bring. Hierdie 'gees' maak mense los
van die Woord van God deurdat nuwe dinge as Bybels en deel van 'n herlewing verkondig word. Dit is egter eerder
'n herlewing van die
okkulte. Huise en ander voorwerpe word met olie gesalf. Retha Wiid
vertel in die media hoedat sy haar man wat 'rondgeloop' het se skoene en
onderklere gesalf het om hom uit sy sondige lewenstyl te kry. Dit is
'white magic' en nie Bybels nie. John Hagee praat van die 'popcorn' Christene. Dit is die mense wat soos springmielies opspring in
'n diens
en dan neerslaan. Tenspyte van talle christene se waarskuwings teen
sekere van die TBN predikers soos Benny Hinn, ... , kan baie naïewes
nie glo dat daar iets verkeerd geleer word nie. Die probleem is moderne
gemakstoel Christene wat voor TBN sit ipv. meer voor die Bybel te sit
soos dit Bybelstudente pas nie! Bybelstudie is harde werk terwyl TBN
klaar voorbereide kitskos aanbied. Dit is Christene wat nie meer vra wat
sê die Woord nie, maar wat sê Rodney H Brown en andere...!
Jer 17:5 So sê die HERE: Vervloek is die
man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van
die HERE afwyk.
"Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle
'n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat
hom 'n vervloeking wees!" (Gal 1:9)
**********************************************************
|