Aftree tyd

of

Intree tyd

 

DB Dick

 

Jos. 13:1: "Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê, "Jy is al baie oud, en daar is nog `n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word"

Toe Josua al baie oud was, gee God hom 'n nuwe visie en 'n nuwe uitdaging. God skryf hom nie af nie. Hy word nie aanbeveel na 'n ouetehuis nie - al het baie hom seker reeds afgeskryf. Daar is nog `n groot deel van die land wat van die vyand afgeneem moet word.

Ouderdom is 'n probleem tussen jou ore, het iemand gesê. Resente studies dui daarop dat jou intelligensie en effektiwiteit nie met die ouderdom verminder nie maar eerder 'n neiging toon om te verhoog. Medici wys daarop dat ouer mense nie lank gesond bly tensy hulle ervaar dat hulle nog nodig en bruikbaar is. Daarom dat die hoogste siekte syfer geleë is by persone tussen 50-70 jaar. Wanneer hierdie gevaarsone oorgesteek is, kan mense nog baie inisiatief openbaar. Michelangelo was 70 toe hy sy groot werk in die St Peter's kerk voltooi het. Goethe was oor 80 toe hy Faust voltooi het. Gladstone was 84 toe hy eerste minister geword het. Handel, Haydn en Verdi onderskeidelik op 74, 77 en 87 nog baie aktief en ondernemend. Pasteur maak sy groot ontdekking op die ouderdom van 63 jaar. Winston Churhhill was 82 toe hy sy boek: History of the English-Speaking Peoples, geskryf het. "Genius is mainly an affair of energy"- M. Arnold.

Daar is die verhaal van `n vrou van 108 jaar wat haar man met 'n egskeiding gedagvaar het omdat sy hom verdink het dat hy haar vir haar geld getrou het. Sy het duidelik geen verwagting vir die dood in die nabye toekoms ervaar nie! Oom Wiets Marais, 'n christen broer van Pongola, wat op 80 jaar eers leer om met 'n rekenaar te werk, is besig om 'n boek te skryf. Wyle tannie Henna Grey van Josini, het as senior burger `n visie van die Here gekry om die res van haar lewe in die sendingveld deur te bring. Sy het al haar gerief vaarwel geroep en in die boendoes, vanuit haar karavaantjie, die mense op die Makatini vlakte begin evangeliseer totdat sy naderhand `n gemeente gevestig het.

Die rede waarom mense aktief en ondernemend bly is omdat hulle besig bly. Medici wys daarop dat om besig te bly die beste ontlading vir emosionele spanning en stres is. Stokperdjies en ander betrokkenheid by die Kerk en in die gemeenskap, kan help in die opsig.

Daar word gewys daarop dat dit die onaktiewes is wat later siek word. Hoe belangrik is dit nie dat ons sal bid vir 'n besige aftreetyd in diens van ons Meester nie.

In die Switserse begraafplaas lui die inskripsie: HE DIED CLIMBING. Van so baie moet gesê word: He died descending. Die opgewondenheid van om te leef, die geesdrif van nuwe dinge is weg, daar is geen lewensverwagting meer nie! Daar is so `n geestelike uidaging vir ons senior burgers. God se doel met ouderdom is dat ons, ons waardesisteem sal hersien. Die eie-ek is in die jeug sentraal, God wil dit verander met die jare.

 

 

 

Getting older is not getting better unless it is delivering one from self-love. Ageing is God's finishing school

 

 

 

Die groot gevaar van die aftree tyd in 'n mens se lewe is dat 'n mens die wêreld se patroon kan volg deur die plesier na te jaag en die self te bevredig. Aftree tyd word vir baie mense die selfsugtigste tyd van sy lewe - en dit net voor hy God gaan ontmoet!! Dit vind plaas deur geld op allerlei luukshede te spandeer, w.o. aan wêreldse dinge soos oorsese reise, 'n motorboot, plesier en ontspanning, leeglê, ens.

Die aftree jare is 'n ROEPING. Afgetrede mense behoort af te tree met 'n visie om diensbaar vir die Here te wees. Hulle kan in die tyd van hulle lewe juis die krag en die invloed wees wat tot die redding van siele sal lei. Dit kan geestelik die mees produktiewe tyd van 'n mens se lewe wees omdat hy/sy nou voltyds vir die Here kan werk. Ons senior burgers is die groep met die meeste lewenservaring en lewenswysheid, en dit alles behoort op hierdie laaste stadium van hul lewe, beskikbaar vir die Here te wees. Watter gebedsmag kan hulle nie wees nie! Hulle het nou genoeg tyd om te kan bid. Die Here het Mosesse, Hurs en Aärons nodig om in te tree vir Sy werk. Deur vir `n sendeling in te tree, sal die Here die voorbidder reken asof Hyself sendingwerk gedoen het.

Matt. 10:41: "Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet te beloning ontvang...."
Van die laaste dae word gesê dat mense "selfsugtig.....eeder liefde vir genot as vir God het.." Dit moet nooit waar word van `n mens se laaste dae hier op aarde nie.

 
 

Ps. 92:15 moet eerder waar wees: " Die regverdiges.... selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees."

 

Josua (Jos 14:10-11), wat sy lewe in diens van God geslyt het en wat bekend was vir sy kinderlike vertroue in die Here, kon op 85 jarige ouderdom sê, "Ek is vandag `n man van vyf en tagtig, maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom." Moses het die volk gelei totdat hy 120 jaar oud was. Sy geheim was dat hy met God gewandel het.
`n Kind van die Here tree nie af nie, maar in diens. Selfs al stap die jare aan, moet elkeen steeds seker wees dat hy nog elke dag gehoorsaam is, besig om God se agenda vir sy lewe uit te voer.
Wie God se agenda laat vaar het, het geestelik lou of koud geword. Solank dit dag is, moet ons "die werk doen van Hom wat My gestuur het: die nag kom wanneer niemand kan werk nie."
(Jon 9:4). " Wees baie versigtig hoe julle lewe....Maak die beste gebruik van elke geleentheid ......probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. " (Ef 5:15-17)

 

 

 

Hit Counter

Non-Profit Organisation Reg. No.: O55-756-NPO

Kopiereg /Copyright : Geen / None

Opdatering / Last update : July 30, 2010