BEVRYDING VAN BOSE MAGTE

Piet du Toit

 

 

INDEKS

 

                    Hoofstuk 1   Waar alles begin het

Hoofstuk 2   Skrifgegewens

Hoofstuk 3   Hoe kom demone in mense?

Hoofstuk 4   Die okkulte

Hoofstuk 5   Is daar "grade" van besetting?

Hoofstuk 6   Kan 'n Christen 'n bose gees hê?

Hoofstuk 7   Nie 'n demoon agter elke bos nie

Hoofstuk 8   Simptome van besetting deur bose geeste

Hoofstuk 9   Bevryding van bose geeste

Hoofstuk 10   En wat van kinders?

Hoofstuk 11   Hoe om vry te bly

                    Hoofstuk 12   Die genesing van innerlike wonde                    

                     Agterblad

 

HOOFSTUK 1

 

WAAR ALLES BEGIN HET

 

Op 'n stadium in my bediening het ek begin wonder waarom demone dan slegs in Jesus se tyd probleme in mense veroorsaak het en skynbaar nie meer in ons tyd nie. Hoekom lees 'n mens dan in die Bybel dat Jesus en Sy apostels mense bevry het van demone terwyl dit feitlik vandag nie meer gebeur nie; altans, nie in my eie bediening of in die bediening van 'n enkele kollega wat ek geken het nie?

Gedurende 1982 het ek en my vrou op 'n maandlange toer vertrek. Ons eerste stilhouplek was Durban, waar daar destyds 'n mnr. Piet Smith was wat onder die Indiërs bevrydingswerk gedoen het. Vir die eerste keer in ons lewens het ons gesien hoedat demone in mense manifesteer en hoedat hulle in die Naam van Jesus uitgedrywe word.

Toe ons na 'n paar dae se verblyf in Durban wegry, was ons oortuig daarvan dat daar nog werklik ook in ons dag demone is wat in mense kan wees. Ons het egter gereken dat dit slegs kan voorkom by heidene wat, soos in die geval van baie Indiërs wat tot die Hindoe-geloof behoort, afgode aanbid.

Gedurende die tweede helfte van 1982 het Piet Smith 'n besoek aan ons gemeente gebring om, soos hy dit gestel het, te kyk wat die werklike omvang van swart magie (toordery) in hierdie deel van die wêreld is! Aan die begin het ek eerlikwaar nie geweet waarvan hy praat nie, en nog minder het ek gereken dat daar van ons "goeie lidmate" betrokke kon wees by toordery en besoeke aan toordokters!

Nadat hy die Saterdagmiddag 'n diens in die kerkgebou waargeneem en oor hierdie dinge gepraat het, het daar baie mense agtergebly wat wou kom vir afsprake omdat hulle die simptome van besetting deur demone, soos hy dit voorgehou het, by hulleself kon identifiseer. Vir die volgende vier dae het ons van soggens vroeg tot saans laat gewerk om hierdie mense te help.

Dit was die begin van 'n nuwe soort bediening wat die Here in Sy genade op ons pad gebring het. 'n Bediening wat, weliswaar, sy frustrasies het, maar wat ook 'n ryke beloning inhou. Daar kan skaars 'n groter beloning wees as om te sien hoedat mense wat vir jare lank met liggaamlike kwale en emosionele probleme geloop het, in Jesus se Naam daarvan bevry word en verander. Ek wil dit egter uit die staanspoor noem dat my eie bediening op hierdie gebied beslis nie net suksesverhale bevat nie. Die Here het in Sy genade heelwat mense deur my bediening bevry, waarvoor ek Hom al die eer wil gee, maar daar is ook mense wat ek nie kon help nie - selfs nie na herhaalde afsprake nie.

Dit was die begin van 'n nuwe soort bediening wat die Here in Sy genade op ons pad gebring het. 'n Bediening wat, weliswaar, sy frustrasies het, maar wat ook 'n ryke beloning inhou. Daar kan skaars 'n groter beloning wees as om te sien hoedat mense wat vir jare lank met liggaamlike kwale en emosionele probleme geloop het, in Jesus se Naam daarvan bevry word en verander. Ek wil dit egter uit die staanspoor noem dat my eie bediening op hierdie gebied beslis nie net suksesverhale bevat nie. Die Here het in Sy genade heelwat mense deur my bediening bevry, waarvoor ek Hom al die eer wil gee, maar daar is ook mense wat ek nie kon help nie - selfs nie na herhaalde afsprake nie.

Gedurende die afgelope aantal jare is dit asof daar by baie kerke 'n groter openheid oor hierdie dinge gekom het. Wanneer al meer mense getuig dat hulle bevry is van demoniese magte, dwing dit 'n mens mos darem om weer te gaan kyk wat die Bybel oor hierdie dinge sê. Vir te lank het die duiwel daarin geslaag om hierdie deel van Jesus se normale bediening as't ware vir die kerk verborge te hou. En mense wat wel hieroor gepraat het, is skeef aangekyk asof hulle oor 'n verbode onderwerp praat.

Die vraag sou met reg gevra kon word: "Is dit hoegenaamd nodig dat die kerk van Jesus kennis behoort te neem van hierdie bediening?" Om hierdie vraag te beantwoord, haal ek die getuienis aan van 'n sendeling:

"As ek terugkyk na my sendingervaring in 'n klein dorpie in Wes-Afrika, dan is ek jammer en verstom dat ek regtig probeer het om sendingwerk te doen sonder die nodige kennis van wat die Bybel ons oor demone leer, en sonder om te weet hoe 'n werklikheid die wêreld van demone vir die mense onder wie ek gewoon en gewerk het, is."

Ons moet tog net nie so naïef wees om te dink dat die werking van demone net beperk is tot die sendingveld nie. Satan en sy demone is oral aktief - ook in Suid-afrika.

Dit is nie my bedoeling om met die skryf hiervan 'n volledige wetenskaplike studiestuk oor Demonologie die lig te laat sien nie. Dit is 'n beskeie poging om te kyk wat die Bybel hieroor leer en om ook iets van ons eie en ander se ondervinding op hierdie terrein op skrif te stel.

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 2

SKRIFGEGEWENS

 

WAAR KOM BOSE GEESTE VANDAAN?

Teoloë verskil oor hierdie vraag. Daar is teoloë wat meen dat demone die geeste is van 'n menslike ras wat vóór Adam bestaan het. Daar word dan ook onderskeid gemaak tussen demone en gevalle engele. Die mees algemene opvatting is egter dat bose geeste (demone) gevalle engele is wat saam met Satan deur God uit die hemel gewerp is.

Nou maak 2 Pet. 2:4 en Judas vers 6 melding van engele wat gesondig het, deur God in kettings geboei is, en in die diepe duisternis vir die dag van oordeel in bewaring gehou word. Die vraag is nou: Wie is hierdie engele? Hierdie gevalle engele wat deur God gevange gehou word, kan tog nie dieselfde bose geeste wees van wie ons elders in die Bybel lees nie. Efesiërs 6:12 leer tog dat bose geeste vrylik in die lug kan rondbeweeg terwyl hierdie ander gevalle engele waarvan Petrus en Judas melding maak, gebonde wesens is. 'n Moontlike verklaring hiervoor is dat hierdie engele wat gesondig het en deur God in bewaring gehou word, dieselfde engele is wat volgens Gen 6: 1-4 met die dogters van die mense op aarde omgang gehad het wat toe die geboorte van reuse tot gevolg gehad het. Dr. E. P. Groenewald onderskryf ook hierdie siening, soos blyk uit sy kommentaar oor die briewe van Petrus en die brief van Judas.

Hoe dit ookal sy, die bestaan van die duiwel en sy talle bose geeste is 'n werklikheid. Ons kan hulle nie wegwens, ontken of met rus laat nie, want hulle laat ons nie met rus nie. Dit is byna ondenkbaar dat daar teoloë is wat die bestaan van die duiwel en bose geeste ontken. In sy getuienis sê iemand wat vroeër 'n satanis was, onder andere die volgende:

"Sataniste lag vir die teoloë wat die bestaan van Satan ontken."

Behalwe dat die Bybel op talle plekke uitdruklik praat van Satan, sy bose geeste en die vernietigende werk wat hulle doen, maak artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis ook die volgende duidelike uitspraak:

"Die duiwels en die bose geeste het so verdorwe geraak dat hulle vyande van God is en van alle goeie dinge. Met al hulle mag loer hulle soos moordenaars op die kerk en op elke lidmaat daarvan....."

DIE OU-TESTAMENTIESE GEGEWENS

In die Ou Testament lees ons baie min van bose geeste. Die belangrikste tekste wat hiervan melding maak is die volgende:

Lev. 17:7, Deut. 32:17, 2 Kron.11:15, Jes.13:21 en 34:14, Ps. 106:37, I Sam. 16:15 en Dan. 10:13.

Hierdie tekste maak melding van duiwels, veldduiwels, veldgode en ook van 'n boosaardige gees, in die geval van Saul (I Sam. 16:15). Die Bybel met Verklarende Aantekeninge (1953 vertaling) maak by Jes. 13:21 die volgende opmerking: "Dit (veldduiwels) is waarskynlik bose geeste wat as woestynbewoners voorgestel is."

Daniël 10:13 maak melding van die vors van Persië - waarskynlik 'n baie sterk bose gees wat as't ware oor die gebied van Persië regeer het.

DIE NUWE-TESTAMENTIESE GEGEWENS

Die evangelie volgens die beskrywings van Matteus, Markus en Lukas bevat heelwat inligting aangaande bose geeste:

1. JESUS SE BEDIENING

Wanneer 'n mens die evangelies lees, is dit duidelik dat die uitdryf van duiwels 'n normale deel van Jesus se aardse bediening was. Die drie hoofmomente van Sy bediening was prediking, genesing en die uitdryf van duiwels. Wat Sy bevrydingsbediening betref, leer die Skrif die volgende:

1.1 Jesus het volkome gesag oor demone in mense gehad (Markus 1:27). Sy absolute gesag oor demone wek juis hier die verbasing van die mense.

1.2 Mense in wie demone was, het dikwels voor Jesus neergeval wanneer hulle Hom gesien het (Markus 3:11).

1.3 Soms het Jesus 'n bose gees gevra om sy naam bekend te maak voordat Hy hom uitgedryf het (Markus 5:9). Vir ons is dit egter belangrik om daarop te let dat Jesus nooit gesprekke met demone in mense gevoer het nie.

1.4 Die Here Jesus het mense van demone bevry deur die demoon skerp op sy aard aan te spreek en dan te beveel om die persoon te verlaat (Markus 9:25).

1.5 Jesus het selfs oor 'n afstand bevrydingswerk gedoen (Markus 7:29-30).

1.6 In die geval van kinders in wie daar demone was, verwag Jesus geloof by die ouers. Twee voorbeelde hiervan is:

1.6.1. die dogtertjie van die Griekse vrou (Markus 7:29) en

1.6.2. die seun van wie ons in Markus 9:23-24 lees.

1.7 Jesus het selfs in die sinagoges duiwels uitgedryf (Markus 1: 23-29).

1.8 Jesus het duiwels uitgedryf deur die krag van die Heilige Gees wat Hy die "vinger van God" genoem het (Matt 12:28 en Lukas 11:20).

1.9 Jesus het baie mense van bose magte bevry (Matt 8:16).

1.10 In sommige gevalle het Jesus die demone nie toegelaat om te praat nie (Markus 1:34). Die demone het immers geweet wie Jesus is en dit kan wees dat Jesus nie wou hê dat die mense op daardie tydstip moes weet wie Hy regtig is nie.

2. ANDER NUWE-TESTAMENTIESE GEGEWENS OOR PERSONE WAT BEVRYDINGSWERK GEDOEN HET

2.1 Dit lyk asof die bediening van duiweluitdrywing in die tyd van die Here Jesus algemeen voorgekom het (Matt. 12:27, Markus 9:38-40 en Hand. 19:13).

2.2 Jesus het ook aan Sy eie apostels die opdrag en mag gegee om mense te bevry (Matt. 10:1, Markus 3:15 en 6:7). As 'n mens Markus 6: 12-13 lees, dan is dit duidelik dat die apostels inderdaad gehoorsaam aan Jesus se opdrag was nl. om te gaan preek, siekes te genees en duiwels uit te drywe.

2.3 Ook die 72 dissipels wat deur Jesus uitgestuur is, het mense bevry van demone (Lukas 10:17).

2.4 Ook na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart het die dissipels voortgegaan met die bediening van bevryding (Hand. 5:16).

2.5 Volgens Hand. 8:7 het die diaken, Filippus, ook mense bevry van bose magte terwyl hy in Samaria die evangelie verkondig het. Dit kan egter ook wees dat demone vanself uitgegaan het terwyl Filippus gepreek het.

2.6 In Hand. 16:16-18 en Hand. 19: 11-12 lees ons van die bevrydingswerk wat deur Paulus gedoen is.

2.7 In Markus 16:17 sê Jesus dat alle gelowiges wat in Hom glo duiwels sal kan uitdryf. Dit is dus nie so dat die uitdryf van duiwels 'n spesiale gawe is wat net sommige ontvang nie. Alle gelowiges het die gesag om in Jesus se Naam duiwels uit te dryf. Ek wil egter aansluit by ds. Schabort du Plessis wat die volgende sê: "Enigeen kan bevryding doen, maar nie almal behoort dit te doen nie." Dit is dus ook nie waar dat slegs die apostels 'n opdrag van Jesus ontvang het om duiwels uit te drywe nie. Daar is werklik teoloë wat dit beweer! As ons van die standpunt uitgaan dat sekere opdragte van Jesus net vir die apostels bedoel was, kan ons met reg vra: watter opdragte van Jesus is dan nog op ons van toepassing en watter nie, en wie gaan waag om dït te bepaal?

2.8 Jesus bestempel kleingeloof en gebedsversuim as hindernisse in die weg van bevryding (Matt. 17:20 en Markus 9:29). As gevolg van die dissipels se skynbare kleingeloof en gebedsversuim, kon hulle die seun wat deur 'n bose gees geteister was, nie bevry nie.

3. ANDER NUWE-TESTAMENTIESE GEGEWENS OOR DIE AARD EN WERKING VAN BOSE GEESTE

3.1 Bose geeste val mense nie slegs van buite af aan nie, maar hulle kan ook in mense kom vanwaar hulle hul verwoestingswerk nog meer doeltreffend kan doen (Markus 7:26, 9:25, Lukas 9:49, ens.). As Jesus sê: "Gaan uit", beteken dit dat die bose gees(te) binne die mense was.

3.2 Bose geeste is intelligente wesens wat kan praat uit die monde van die mense in wie hulle is (Mark. 1:24 en Matt. 8:31).

3.3 Bose geeste kan ook sien deur die oë van die mense in wie hulle is (Markus 9:20).

3.4 Demone kan ook hoor (Markus 1:25). Hulle gehoorsaam opdragte!

3.5 Demone kan ook emosie beleef (Jakobus 2:19).

3.6 Demone kan ook liggaamlike siektes en pyne veroorsaak (Lukas 6:18, 7:21 en Hand. 5:16). Daar is dus siektes en pyne wat nie 'n fisiese oorsprong het nie, maar die direkte werk van bose magte is. Veral mense wat getoor is (ons kom later hierby), ervaar heel dikwels liggaamlike pyne wat nie deur mediese behandeling genees kan word nie.

3.7 Benewens liggaamlike siektes kan demone ook nog die volgende gestremdhede veroorsaak:

3.7.1 Stomheid en doofheid (Markus 9:25);

3.7.2 Blindheid (Matt. 12:22);

3.7.3 Verstandelike versteurdheid (Lukas 8:35).

Dit moet egter beklemtoon word dat hierdie gestremdhede nie noodwendig deur bose magte veroorsaak word nie.

3.8 Demone kan mense ook op emosionele vlak beïnvloed bv. deur middel van onbeheerbare woedebuie (I Sam. 16:23 en 19: 9-10).

3.9 Daar kan sommer baie demone in een enkele mens wees (Markus 5: 9-13). Op 'n vraag van Jesus aan die bose gees in hierdie gedeelte antwoord hy: "Ons is sommer baie!" En hierdie "baie" moes inderdaad baie gewees het want hulle het in ongeveer 2000 varke gevaar. As daar in elke vark slegs een demoon ingevaar het, dan beteken dit dat hierdie man van Gerasa minstens 2000 demone in hom moes gehad het! Dit verklaar waarom hy as kranksinnige tussen die grafte gebly het en nie 'n normale lewe kon voer nie. Hy was hewig beset! Nie naastenby alle mense in wie daar demone is, is so hewig beset nie. Die meeste mense in wie daar enkele demone is, is nie opgeneem in kranksinnige inrigtings nie, maar voer 'n normale lewe in díe sin dat hulle, ten spyte van simptome van besetting, tog nog deel van 'n huisgesin is en normaalweg met hul werk kan voortgaan.

3.10 Reeds in 'n mens se kinderjare kan demone al van jou besit neem (Markus 7:25 en 9: 21-25).

3.11 Mense wat afgode aanbid, kom in direkte kontak met demone (1 Kor. 10: 19-20).

3.12 Waarsêers beoefen waarsêery deur middel van demone wat aan hulle die inligting gee aangaande die mense wat na hulle kom - inligting waaroor waarsêers self nie kon beskik nie (Hand. 16:16). Hierdie slavin het in haar 'n gees gehad wat kon waarsę en die oomblik toe sy van daardie bose gees bevry is, was sy nie meer in staat om vir haar base geld in te bring deur waarsęery nie. In die praktyk kom dit daarop neer dat mense wat na toordokters en fortuinvertellers gaan om inligting te bekom, eintlik die bose geeste in daardie mense raadpleeg. Nou is dit sekerlik ook waar dat daar fortuinvertellers is wat nie deur bose geeste inligting aan mense gee nie, maar wat net eenvoudig aan mense 'n spul leuens opdis. Tog bly dit gevaarlik en verkeerd om met sulke mense om te gaan, selfs al is dit vir die grap.

3.13 Bose geeste weet dat hulle verslane vyande is en dat die ewige straf van God op hulle wag (Matt. 8:29).

3.14 Demone wat in Jesus se Naam beveel word om uit te gaan, kan soms baie heftig reageer deur bv. die persoon op die grond neer te gooi, stuiptrekkings te laat kry en dan met 'n geskreeu uit te gaan (Mark. 9: 25-26, Luk. 4:35 en Hand. 8:7). 'n Moontlike verklaring hiervoor is dat demone in magtelose woede reageer wanneer hulle weet dat hulle nie meer langer in iemand kan bly nie.

3.15 Demone wat uitgedryf word, probeer gewoonlik om terug te kom na die persoon uit wie hulle uitgegaan het (Matt. 12:43-45). En wat die Bybel hier leer, bevestig die praktyk oor en oor!

3.16 Die groot rede waarom demone kan terugkom na mense toe is omdat daardie persoon nie sy/haar lewe ná bevryding laat beheers het deur die Heilige Gees nie (Matt. 12:44). Die woord onbewoon dui daarop dat die demone wel uit is, maar dat Jesus nie in beheer van daardie lewe is nie.

3.17 Bose geeste verkies klaarblyklik om in 'n groep saam te woon (Matt. 12:43-45). Hierdie bose gees wat uitgegaan het, gaan haal sewe ander om saam met hom in daardie persoon te gaan bly.

3.18 Demone openbaar verskillende grade van boosheid (Matt. 12:45).

3.19 Demone is onsigbare wesens alhoewel hulle kan materialiseer (Ef 2:2).

3.20 Volgens Dan. 10:13 en Efesiërs 6:12 is daar rangordes in die demoniese wêreld. Die 1953-vertaling van Ef. 6:12, wat die Grieks baie getrou navolg, lui as volg:

"Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug."

Dit kan dui op rangordes. Dit verklaar ook waarom sommige demone wat beveel word om uit te gaan, maklik uitgaan sonder enige gewelddadige manifestasies, terwyl ander selfs probeer argumenteer en aanvanklik nie wil uitgaan nie. Ons kan sê dat die gewone troepies maklik padgee terwyl die generaals nie so maklik tou opgooi nie.

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 3

HOE KOM DEMONE IN MENSE?

Nêrens in die Bybel lees ons wat die "oop deure" is waardeur demone in mense kan kom nie. Die praktyk leer egter wat hierdie oop deure is. Feitlik alle persone wat bevrydingswerk doen met wie ek gepraat, of na wie se bandjies ek geluister, of wie se boeke ek gelees het, stem saam dat die oop deure die volgende is:

1. OORERWING

'n Oupa of ouma wat toordery of waarsêery beoefen het, wil hierdie mag of gawe aan 'n kind of kleinkind oordra om ná hulle dood daarmee aan te gaan. Die duiwel verblind mense werklik so dat hulle hierdie "vermoëns" as 'n gawe van God sien. Wat in werklikheid gebeur, is dat so 'n oupa of ouma die demone wat in hulle is, "oordra" op 'n kind of 'n kleinkind.

Die praktyk leer voorts dat mense wat dikwels met die okkulte deurmekaar was, se kinders en selfs kleinkinders abnormale probleme ontwikkel. Demone wil graag binne 'n familie bly.

In sy boek, Oplewing in die Satanisme, skryf Mark I. Bubeck op bl. 52 die volgende:

"Nog 'n tragedie wat met demonisering gepaard gaan, is die feit dat ons in die woord van God lees dat daar 'n probleem ten opsigte van die volgende geslag ontstaan as demoniese magte beheer oor 'n mens verkry. Die bose geeste wat so 'n mens beheer, kan hom slegs beheer solank hy lewe. Wanneer hy sterf, leef die bose magte egter voort. Hulle sterf nie saam met hom nie, maar probeer hul werk en houvas voortsit. Daarom probeer hulle vanselfsprekend om hul bose werk in sy onmiddellike familie soos kinders, kleinkinders en broers- en susterskinders voort te sit. As hulle daarin kan slaag, word die demonisering 'n probleem wat oor geslagte heen kan strek."

2. BETROKKENHEID BY DIE OKKULTE

In die volgende hoofstuk sal ek vollediger uitwei oor die okkulte. Onder hierdie "oop deur" wil ek net graag die okkultiese dinge noem waarby mense betrokke kan wees en wat kan lei tot demoniese probleme:

2.1 Satanisme

(Satanisme, wat besig is om ook in ons land geweldig veld te wen, is ongetwyfeld die ergste en mees skokkende vorm van okkultisme waarby 'n mens betrokke kan wees. Vir meer inligting sien Kobus Jonker se omvattende werk, Satanisme - 'n realiteit. Mark I. Bubeck skryf in sy boek, Oplewing in die Satanisme, dat hierdie probleem sulke afmetings aanneem onder die jeug van Amerika, dat daar byna nie meer 'n skool is waar kinders nie aan sataniese invloede blootgestel word nie.)

2.2 Alle vorme van waarsêery

2.3 Séance

2.4 Vrymesselary

2.5 Karate

2.6 Judo

2.7 Joga

2.8 Kung-fu

2.9 Afgodsbeelde in die huis, bv. Boeddhabeelde. In die lig van Deut. 7: 25-26 sal mense wat Oosterse lande besoek, baie versigtig moet wees wanneer hulle klere en ornamente koop wat afbeeldinge bevat wat verband hou met die Oosterse godsdienste. Hieronder val veral "Happy jackets", pantoffeltjies met drakies daarop, koperklokkies vol Boeddhatjies en Chinese poppies.

2.10 Akupunktuur

2.11 Transendentale meditasie

2.12 Besoeke aan toordokters

         2.13 Besoeke aan sommige homopate of "geloofsgeneeshere" wat die sieke met hulle hande "bestraal"

2.14 Beoefening van astrale projeksie

2.15 Voorvaderverering en -aanbidding by die swartmense

2.16 "Ouijaboard" of spiritistiese bord (glasie-glasie)

2.17 Dra van gelukbringers

2.18 Bygelowe

2.19 Programme op TV wat deurspek is met okkultisme

2.20 Speelgoed wat op die mark gestoot word en wat direkte verband hou met kinder-TV-programme, waarvan die inslag okkulties van aard is.

3. VALSE GODSDIENSTE

Hieronder dink ons veral aan Hindoeïsme, Boeddhisme en die Islam. Persone wat bevrydingswerk onder die Indiërs doen, kan daarvan getuig dat mense wat die Hindoe-afgode aanbid, deur demone beset raak. Ek het dit in Durban by 'n hele aantal gevalle waargeneem. Sendelinge wat in ander dele van die wêreld onder heidene sendingwerk doen, getuig ook van hewige besetting wat plaasvind wanneer hierdie mense voor die afgode neerbuig.

4. SWAAR KINDERJARE

Daar is kinders wat as gevolg van swaar en ongelukkige kinderjare deur demoniese magte beset geraak het. Met swaar en ongelukkige kinderjare bedoel ek die volgende:

4.1 Kinders wat deur hul ouers verwerp is;

4.2 Kinders wat voortdurend in vrees moes lewe;

          4.3 Kinders wat seksueel gemolesteer is.

Kinders wat hierdie dinge beleef het, ervaar gewoonlik emosies van haat, bitterheid en rebellie, wat weer op hulle beurt die "oop deur" vir demone is om van daardie kinders besit te neem.

Die vraag kan natuurlik gevra word of dit nie onregverdig van Satan is om demone in sulke kinders te laat gaan, terwyl hulle tog geen beheer het oor die huislike omstandighede waarin hulle moes opgroei nie? Ek wil graag die volgende antwoord gee:

Satan is uit en uit 'n mensemoordenaar (Joh. 8:44). By hom bestaan daar nie so iets as regverdigheid, billikheid en simpatie nie. Dit is sy werk om mense te vernietig en hoe vroeër hy daarmee in 'n kind se lewe kan begin, hoe makliker vir hom.

5. HERHAALDE SONDES

Nie almal wat sonde doen, raak beset deur demone nie. Indien dit die geval sou wees, het almal van ons met demone in ons rondgeloop - iets wat tog nie die geval is nie. Maar tog is dit so dat mense wat hulle herhaaldelik skuldig maak aan veral die volgende sondes, deur demone beset kan raak:

sekssondes, bitterheid, verslawing.

Ek wil graag 'n voorbeeld van elk gee:

          5.1 Sekssondes

Gert het na ons gekom vir 'n afspraak. Hy en sy vrou was al elf jaar getroud. Albei was gelowige en meelewende lidmate in die gemeente. Gert het 'n geweldige probleem op seksgebied gehad. By tye het 'n mag hom as't ware uit die huis gedryf na ander vrouens, met wie hy dan seksueel verkeer het. Hy wou dit nie doen nie, maar het getuig dat hy feitlik geen beheer daaroor gehad het nie. Hy en sy vrou het al saam ernstig daaroor gebid, maar daar het geen verbetering ingetree nie. Ek het met Gert begin gesels oor sy kinder- en jongmensjare. Hy het vertel hoedat hulle as jong seuns op die plaas dikwels kaal in die spruit gaan swem het en mekaar dan betas het. Later jare het seks met diere ook ter sprake gekom. As jong man het Gert, as gevolg van sekservarings uit sy kinder- en jeugjare, 'n losbandige lewe gely. Ek het dit aan Gert gestel dat hierdie sekssondes uit sy kinder- en jeugjare waarskynlik die "oop deur" was waardeur hy aan demone die reg gegee het om in hom te kom. Gert wou weer hierdie sondes met berou aan die Here bely. Daarna het ek demone wat in hom mag gewees het, begin bestraf. Onmiddellik het sy liggaam begin ruk en het hy onbedaarlik begin skreeu. Die volgende oomblik het 'n demoon gepraat en gesê dat hy 'n seksgees is! In die Naam van Jesus het ek hom beveel om uit te gaan. Die bose gees het sy liggaam verlaat met, soos dit soms gebeur, die uitbring van slym. Daardie dwingende gevoel wat vir Gert gedryf het, is weg tot vandag toe.

'n Voormalige satanis vertel in sy getuienis dat hekse wat seksueel met mans verkeer, gedurende geslagsgemeenskap, demone op daardie man kan oordra, om sodoende 'n houvas op hom te verkry.

5.2 Bitterheid

Johanna het een aand gebel vir 'n afspraak. Sy het vir 'n paar jaar lank al 'n geweldige pyn op haar maag gehad. Die dokters het X-strale geneem, maar kon nie vasstel wat die oorsaak van die pyn was nie. Hulle het besluit om die volgende dag te opereer. Daarvoor het Johanna nie kans gesien nie en sy het besluit om te "ontsnap" uit die hospitaal. Uit 'n gesprek met Johanna het dit geblyk dat sy al vir etlike jare 'n wrok teenoor haar oom in haar omgedra het, omdat hy haar vader veronreg het. Ek het dit aan haar gestel dat sy gewillig moes wees om haar oom van harte te vergewe. Dit het sy gedoen. Na belydenis het ek begin bestraf. Na 'n rukkie het sy begin om winde te breek - nog 'n manier waarop demone die liggaam kan verlaat. Die pyn op haar maag was onmiddellik weg! Die moontlikheid is baie groot dat hierdie meisie deur haar bitterheid die deur oopgemaak het vir 'n bose mag wat van haar besit geneem en liggaamlike pyn veroorsaak het.

      5.2 Verslawing

As iemand middels gebruik wat kan lei tot verslawing, kan die aanhoudende gebruik uiteindelik die deur oopmaak vir 'n demoniese mag van verslawing in so 'n persoon se lewe. Neem die geval van Elizabeth. Sy het na ons gekom omdat sy pyne in haar kop en rug ervaar het waarmee die dokters nie raad geweet het nie. Terwyl ons vir haar gebid het, het sy in 'n beswyming geraak. Dit is 'n seker teken van besetting. Ons vra toe die demoon om homself te identifiseer, waarop hy homself "Grandpa's" noem. Ons beveel hom toe om in Jesus se Naam die vrou te verlaat. Nadat sy bevry is, het sy erken dat sy al jare lank totaal aan Grandpa-poeiers verslaaf was. Hierdie verslawende gewoonte het uiteindelik die deur oopgemaak vir 'n bose mag wat van haar besit geneem en pyne in haar liggaam veroorsaak het.

6. SKOKSITUASIES EN TRAUMATIESE ERVARINGS

Etlike persone wat bevrydingswerk doen, het getuig dat hulle al met mense te doen gekry het wat beset geraak het tydens 'n skoksituasie of 'n geweldige traumatiese ervaring, veral as dit met intense vrees gepaard gegaan het. Rev. Ken Philpott en dr. L. A. Hymers maak in hul boekie, The Deliverance Book, op bl. 54 melding van 'n leraar wat as kind aan sy bed vasgemaak is met 'n laken wat oor sy hele lyf gegooi is. Vir ure het hierdie kind gesukkel om los te kom en om hulp geskree. Gedurende hierdie uiters traumatiese ervaring het daar skynbaar 'n demoon van hom besit geneem, want vir jare daarna het hy neurotiese vrese gehad totdat hy op 'n dag deur iemand van 'n demoon bevry is.

7. DIE LUISTER NA SOMMIGE POPMUSIEK

Musiek is vandag 'n magtige instrument om mense te beïnvloed - ten goede of ten kwade.

Baie van die popmusiek waarna mense luister, word gesing deur persone wat uitgesproke ateïste is, aan die satanskerk behoort, diep by die okkulte betrokke is, of wat hulle aan allerlei vorme van seksuele losbandigheid skuldig maak.

Oor baie van hierdie musiekproduksies word daar vloeke uitgespreek sodat diegene wat daarna luister onder die mag van demone moet kom. Dit is dus te verstane dat diegene wat luister na díe tipe musiek, gesing deur mense wat aan Satan behoort en deur hom gebruik word, nie skotvry daarvan kan afkom nie.

Dit is bekend dat sataniste hulle veral toespits op jongmense, en in hul poging om jongmense vir satanisme te wen, word daar veral gebruik gemaak van dwelms en die sogenaamde "hard rock-musiek". Musiek bring 'n mens in vervoering en indien daardie musiek demonies geïnspireerd is, kan jy deur voortdurend daaraan blootgestel te wees, deur bose magte beset raak. Talle kinders het deur musiek in satanisme verval en sukkel vandag nog om bevry te kom uit Satan se strik.

Veral jongmense sal met onderskeiding na popmusiek moet luister. Moenie deur die wysie meegesleur word nie. Luister aandagtig na die woorde en kom ook meer te wete omtrent die lewens van die sangers.

8. PORNOVIDEO'S

Iemand wat vroeër lid van die satanskerk was, beweer dat die sataniste pornovideo's vervaardig en vloeke daaroor uitspreek sodat diegene wat daarna kyk, deur demone van wellus beset moet word.

Persoonlik het ons al te doen gehad met 'n vrou wat deur 'n demoniese mag beset geraak het terwyl sy na sogenaamde "blou films" gekyk het onderwyl haar man op 'n sakebesoek oorsee was.

Die pornografiese leesstof wat so vrylik beskikbaar is, kan gewis ook 'n "oop deur" wees vir besetting.

9. VLOEKE

Miskien sal dit goed wees om net kortliks te kyk na wat die Skrif leer in verband met vloeke. Daar bly egter steeds vrae in 'n mens se gemoed waarop jy nie bevredigende antwoorde het nie.

          9.1 Vloeke wat deur God uitgespreek word

9.1.1 God onderneem om diegene te vervloek wat vir Abraham vervloek (Gen. 12:3).

9.1.2 In Deut. 27:15-26 word 'n lang lys van vloeke genoem wat sal kom oor mense wat aan God ongehoorsaam is.

9.1.3 Daar rus 'n vloek op mense wat hulle vertroue op mense stel en wegdraai van God af (Jer. 17:5-6).

9.1.4 Jesus vervloek die vyeboom (Mark 11:12-14).

9.2 Vloeke, uitgespreek deur mense op gesag van God

9.2.1 In Josua 6:26 spreek Josua 'n vloek uit oor die persoon wat in die toekoms Jerigo probeer herbou. In 1 Kon.16:34 tree hierdie vloek in werking wanneer Gïel se twee seuns albei sterf.

9.2.2 In 2 Sam. 3:28-29 spreek Dawid 'n vloek uit oor Joab en sy nageslag as gevolg van die moord op Abner.

9.2.3 Die vloek wat Jotam, seun van Jerrubaäl, oor Abimelek en die inwoners van Sigem uitspreek (as straf van God), het hulle getref. Lees Rigters 9:19-20 (die vloek) en Rigters 9:56-57 (die vervulling van die vloek).

9.3 Vloeke, uitgespreek deur mense op gesag van Satan

Die praktyk leer dat vloeke wat deur mense op gesag van Satan uitgespreek word, 'n demoniese mag in die lewe van die slagoffer kan laat kom, wat 'n vernietigende uitwerking op sy of haar lewe kan hê.

        9.3.1 Vloeke, uitgespreek deur mense uit wraakneming

Dit gebeur dat mense uit woede of wraak 'n vloek oor ander uitspreek. Enkele voorbeelde hiervan is:

"Ek wens jy gaan ten gronde";

"Ek wens jy vrek";

"Mag jy jou lewe lank ongelukkig wees";

"Mag jy krepeer van ellende";

"Mag jy op die kante van jou skoene loop".

Dr. Kurt Koch noem in een van sy boekies die voorbeeld van 'n meisie wat op 'n plaas gewerk en swanger geraak het by die seun van die plaaseienaar. Sy het dit aan die seun gestel dat hy met haar behoort te trou - iets wat hy nie bereid was om te doen nie. Hierop het sy hom vervloek en gesê dat sy eerste kind 'n idioot sal wees terwyl die tweede kind 'n onnatuurlike dood sal sterf. Albei vloeke het waar geword!

Kobus Jonker vertel in sy boek, Satanisme - 'n realiteit, van die aangrypende geval waar 'n hoërskooldogter skielik ernstig siek geword en later ook simptome van haat, opstandigheid, humeurigheid en depressie begin openbaar het. Nadat die moeder en dogter na 'n praatjie van Kobus Jonker oor satanisme geluister het, het hulle tot die oortuiging gekom dat die dogter se probleem demonies van aard is. Die dogter is kort daarna na 'n leraar wat vir haar gebid het. Skielik het 'n demoon uit die dogter begin praat wat gesê het dat hy na haar gestuur is om haar siek te maak. Dit is gedoen deur 'n ander matriekdogter wat 'n satanis is en wat 'n vloek op haar geplaas het. Die dogter is bevry en die simptome het verdwyn.

           9.3.2 Vloeke, uitgespreek deur dienaars van Satan

Soms gaan mense na toordokters om dan deur hulle vloeke op ander te plaas. Ons vind 'n treffende voorbeeld hiervan in Numeri 22: 3-6 waar koning Balak vir Bileam laat kom om die volk Israel te vervloek. Bileam was destyds ook bekend daarvoor dat die vloeke wat hy oor mense uitspreek, hulle wel tref (Num. 22:6b).

           9.4 Ek wil ten slotte 'n definisie van 'n vloek probeer gee:

9.4.1 'n Vloek is woorde wat uitgespreek word wat gelaai is met bonatuurlike krag en wat kan veroorsaak dat daar negatiewe dinge met mense gebeur.

9.4.2 Hierdie bonatuurlike krag kan óf van God óf van Satan wees.

9.4.3 Vloeke se uitwerking kan selfs die nageslagte tref.

Dr. Derek Prince van Amerika beweer dat 'n geneigdheid tot ongelukke 'n baie sterk aanduiding van 'n vloek oor iemand se lewe kan wees.

9.5 HOE OM VLOEKE TE HANTEER

9.5.1 Dit lyk vir my asof vloeke wat deur God oor mense kom vanweë hul ongehoorsaamheid, alleen in 'n seën omskep kan word wanneer mense hul bekeer en die wil van God begin doen.

9.5.2 Vloeke wat egter oor mense gekom het omdat ander mense hulle óf self vervloek het óf deur 'n dienaar van Satan laat vervloek het, kan in die Naam van Jesus "verbreek" word en die uitwerking daarvan ongedaan gemaak word. Daar is egter ook gevalle waar 'n bose gees wat ingekom het deur die vervloeking, uitgedryf sal moet word.

10. TOORDERY (Swart magie)

Die meeste mense wat by ons was vir bevryding, het beset geraak omdat ander mense hulle deur toordokters laat toor het. Die beoefening van toordery (swart magie) is 'n werklikheid. In hul boekie, Okkultisme, gee C. H. Prinsloo en P. J. Rossouw op bl. 37 die volgende definisie van swart magie:

"Persone wat oor mediumistiese kragte beskik, kan ander mense uit haat en ontevredenheid werklike liggaamlike en geestelike leed berokken met die hulp van demoniese kragte. Gematerialiseerde krag in die vorm van 'n skimmens of -dier kan die taak volvoer. Dit kan ook geskied deur die steek van 'n naaldjie in 'n beeldjie."

Ons lees op 'n hele paar plekke in die Ou Testament van die beoefening van toordery (Num. 23:23, 2 Kon. 9:22, 21:6, 2 Kron. 33:6, Jes. 47:9 en 12, Mal. 3:5).

In Hand. 8:9 en 11 lees ons van 'n sekere Simon wat mense verbyster het met sy toorkunste, terwyl Hand. 19:19 melding maak van mense wat na hul bekering die boeke verbrand het waaruit hulle hul toorkunste beoefen het.

Wat die presiese aard van hierdie toordery en toorkunste was, weet ons nie, behalwe dat dit saamgehang het met die omgang met bose geeste, bygeloof en afgodery en dat dit 'n gruwel in die oë van die Here was.

Uit praktiese ondervinding van die afgelope aantal jare blyk dit dat toordery (om 'n medemens kwaad te laat aandoen) veel minder onder die blankes voorkom as onder die ander bevolkingsgroepe. Alhoewel toordery ook wel onder blankes voorkom, is blankes weer meer betrokke by ander okkultiese praktyke soos satanisme, joga, karate, transendentale meditasie.

In veral die swart gemeenskap word daar onderskeid gemaak tussen die toordokter (wat gevrees word) en die medisyneman (wat die kwaad moet wegneem). Daar kan ook gepraat word van die beoefening van swart magie (om mense kwaad aan te doen) en die beoefening van wit magie (om die kwaad wat iemand aangedoen is, weer ongedaan te probeer maak).

Ons moet egter nie die fout maak om te reken dat die beoefenaars van wit magie onskuldig is en "goeie werk" doen nie. In baie gevalle maak die beoefenaars van wit magie ook maar gebruik van demoniese magte om die kwaad wat iemand aangedoen is, ongedaan te probeer maak. Persone wat na sg. "goeie toordokters" toe gaan, mag wel hulp ontvang en selfs van hul kwale genees word (want Satan kan mense help en genees!), maar Satan sal wel op 'n ander terrein van daardie persoon se lewe sy betaling kom opeis. Satan werk immers nie verniet nie, en die prys wat mense betaal omdat hulle hulp van Satan se handlangers ontvang, kan nogal 'n hoë prys wees.

Ons kan dus sê dat die beoefening van sowel swart as wit magie demonies van aard is en ten sterkste afgewys moet word. Hoeveel mense gaan bv. nie na 'n Slamaier of "slim man" om te kom help teen goëlery by die huis nie! Die Slamaier mag selfs daarin slaag om hierdie dinge teen te werk, maar weet dan ook dat die duiwel daardeur 'n reg op so 'n persoon se lewe verkry het.

Baie toordokters beskou hierdie vermoëns waaroor hulle beskik as 'n gawe van God! Mense wat by toordokters besoeke gaan aflê, getuig dan ook dat daar 'n Bybel lê en dat daar selfs "gebid" word alvorens hulp verleen word. Sodoende word mense valslik gerusgestel en word selfs Christene om die bos gelei. Van hierdie toordokters is ook waar wat Paulus van die valse apostels van sy tyd gesê het:

"En geen wonder nie! Satan doen hom voor as 'n engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie...." (2 Kor. 11: 14-15).

Hoe werk toordery?

Wat hier volg, is geensins 'n volledige studie van die gruwelike dinge wat toordokters doen en al die metodes waarvan hulle gebruik maak nie. Voordat ons egter kyk hoe toordokters te werk gaan, moet ons net eers kyk waarom mense toordokters besoek: Daar is baie redes hiervoor. Die volgende is enkele van die belangrikstes:

10.1 OM ANDER LEED TE LAAT AANDOEN

10.1.1 Jou kind presteer beter as myne! (Jaloesie)

10.1.2 Julle woon in 'n beter huis as ons! (Jaloesie)

10.1.3 Julle is gelukkig getroud en ons nie! (Jaloesie)

10.1.4 Ek wou die man hê met wie jy getroud is en daarom sal ek jou wys... (Daar is vrouens wat ernstige liggaamlike en emosionele probleme na hul huwelik ontwikkel het omdat hulle deur 'n jaloerse meisie getoor is).

10.1.5 'n Ma hou nie van haar (aanstaande) skoondogter nie en laat haar toor sodat die huwelik nie moet plaasvind nie of ontbind moet word.

10.1.6 "Liefdesdoepa" word ook gekry om te help dat 'n sekere kêrel/meisie van my moet hou!

10.1.7 Veral na 'n stryery gaan mense ook na 'n toordokter om wraak te neem. Talle mense het al vir my min of meer die volgende gesê: "My probleme/pyne het begin nadat ek en X stry gehad het en hy/sy vir my gesê het: Jy sal nog sien wat met jou gaan gebeur!"

10.1.8 Dit gebeur ook dat mense iemand anders kwaad laat aandoen omdat hy graag daardie persoon se werk wil hê. Mense het al getuig dat hulle onverklaarbaar siek geword het by die werk - dat dokters geen fout met hulle kon vind nie en dat hulle uiteindelik hul werk moes bedank. 'n Vrou wat by ons was, se hande het so geswel dat sy byna nie meer kon werk nie en op die punt was om haar werk te verloor. Na bevryding het die swelsel onmiddellik gesak en kon sy met haar werk voortgaan.

10.1.9 'n Huishulp wat voel dat sy veronreg is deur die mense by wie sy werk, gaan na 'n toordokter om haar werkgewer kwaad aan te doen. Mense het al vertel van eienaardige probleme wat hulle in die huis begin ondervind het nadat hulle om een of ander rede die huishulp moes ontslaan of 'n rusie met een van die plaaswerkers gehad het.

Iemand het byvoorbeeld die volgende aan my vertel:

"Gedurende my moeder se jongmeisiedae op hul plaas, het die tafel in die kombuis een aand, terwyl die dogters die tafel gedek het vir aandete, onverwags begin "dans". Dit was gedurende die winter. My oupa het hulle beveel om dadelik alles van die tafel te verwyder en het daarna die dansende tafel met sy sambok begin looi. Na die agste hou het die tafel skielik weer stilgestaan. My oupa het die dogters aangesê om voort te gaan met die tafeldekkery. Voordat hulle egter kon aansit vir ete, was daar 'n groot rumoer op die werf en het die plaaswerkers my oupa dringend geroep. My oupa en sy seuns is toe saam met die plaaswerkers na die stat toe waar hulle een van die werkers op die vloer van die hut gevind het met agt bloederige hale oor sy rug!"

10.1.10 Mense wat voel dat hulle veronreg is deur erfgrond wat hulle moes gekry het, gaan na 'n toordokter om diegene wat die plaas bewoon, te probeer wegwerk. Daar is dan ook talle getuienisse van mense wat vertel hoe dit op 'n betrokke plaas begin goël het, en alles net skeefgeloop het nadat daar by ander familie ontevredenheid was oor die erfporsie.

10.2 MENSE WAT GLO DAT HULLE KWAAD AANGEDOEN IS GAAN NA DIE TOORDOKTER VIR HULP

Die toordokter gee gewoonlik vir diesulkes medisyne om te drink om die "kwaad uit te werk", of poeier om te brand in die huis, of smeergoed om hulle te beskerm teen die kwaad. Soms sal hy ook aan hulle goed gee om naby die huis te begrawe om die kwaad teen te werk. In sommige gevalle kom die toordokter na die persoon se huis om die huis "skoon te maak".

Die harde werklikheid is dat selfs lidmate wat vermoed dat hulle kwaad aangedoen is, na toordokters toe gaan vir hulp omdat die kerk nie by magte is om hulle te help nie. Die gevolg is dat hulle dan dieper in die moeras beland.

10.3 DAT ANDER MENSE VAN MY MOET HOU

Ds. Denzel Dick (wat al vir etlike jare onder die Zoeloes werk) noem die interessante verskynsel dat sommige Zoeloes na 'n toordokter gaan om "iets" te kry sodat die blankes van hulle moet hou!

10.4 NOG ANDER REDES

10.4.1 Om 'n hofuitspraak in 'n beskuldigde se guns te laat verander.

10.4.2 Om iets te kry wat iemand kan help om werk te kry.

10.4.3 Om 'n ontroue eggenoot weer getrou te maak.

10.4.4 Om doodgewoon medisyne te kry vir een of ander siekte.

10.4.5 Om ingesny te word sodat die persoon teen enige vorm van kwaad beskerm kan word. Selfs kinders word op 'n vroeë leeftyd na 'n toordokter geneem om ingesny te word.

10.5 'n VOORBEELD VAN TOORDERY (swart magie)

Jan wil om een of ander rede vir Koos "kwaad laat aandoen". Jan gaan daarom na 'n toordokter. (Benaminge vir toordokters wissel ook van streek tot streek. Algemene benaminge is slim man en doekom.) Jan versoek nou die toordokter om vir Koos kwaad aan te doen. (En glo my, die fooie van toordokters vergelyk goed met die van professionele mense!) Wat gebeur nou verder? Die toordokter sal waarskynlik van een van die volgende metodes gebruik maak:

10.5.1 Hy sal vir Jan poeier gee om in Koos se kos te gooi;

of in sy drank;

of aan 'n sigaret te smeer;

of per brief aan hom te stuur;

of dit aan onderklere te smeer;

of dit sommer by Koos se tuinhekkie te strooi.

Die oomblik wanneer Koos daardie kos eet, of drank drink of sigaret rook, of brief oopmaak, of op die "toorpoeier" trap, sal hy siek begin raak of pyne in sy liggaam begin ontwikkel. Koos sal dan na 'n geneesheer gaan om hom deeglik te ondersoek en selfs X-strale van sy maag of kop te laat neem, maar die geneesheer sal hom skouerophalend meedeel dat daar fisies niks met hom verkeerd is nie.

                10.5.2 Die toordokter kan ook 'n voodoo-poppie neem waarin daar spelde gesteek word. Op die plek(ke) waar die spelde ingesteek word, sal Koos die pyne in sy eie liggaam ervaar. Die toordokter kan ook 'n toutjie styf om die poppie se liggaam vasbind en dan sal Koos ervaar dat daar 'n onsigbare tou om sy middel gebind is.

'n Kollega het enkele jare gelede 'n meisie na my gebring wat vermoed het dat sy deur iemand getoor was. Een van die simptome was dat sy die ervaring gehad het dat 'n tou styf om haar middel gebind is en dat sy dikwels van 'n poppie droom. Geen mediese verklaring kon gevind word vir die ervaring van die tou om haar middel nie. Die oomblik toe ek die demoon begin bestraf, gaan sy in 'n "trance"-toestand en begin sy dansbewegings uitvoer. Ek vra die demoon om homself te identifiseer maar al wat die demoon sê is: "Poppie! Poppie!" Ons kon gladnie verstaan wat aan die gang is nie. Meteens onthou ek dat toordokters ook gebruik maak van voodoo-poppies wanneer mense kwaad aangedoen word. Ek sê toe net: "As daar êrens by 'n toordokter 'n voodoo-poppie is om wie se middel daar 'n toutjie vasgebind is, dan verbreek ek dit in die Naam van Jesus Christus." Die volgende oomblik is die meisie by haar volle positiewe, gryp na haar middel en roep uit: "Daardie tou om my middel is weg!" Omdat ons op daardie stadium nog taamlik onkundig was rondom bevrydingswerk, glo ek werklik dat die Here my op daardie oomblik die insig gegee het oor hoe om die probleem rondom die voodoo-poppie te hanteer.

                    10.5.3 'n Botteltjie muthi word in die omgewing van Koos se huis begrawe.

10.5.4 Met 'n stok waaraan muthi gesmeer is, word 'n streep getrek oor die voetpaadjie waarlangs Koos gaan loop. Sodra hy oor die streep trap, sal die onheil of siekte op hom "klim".

11. HOE IS HIERDIE DINGE TE VERKLAAR?

Jan het nie besef dat die toordokter van demoniese magte gebruik maak om vir Koos "kwaad aan te doen" nie, maar dit is die harde werklikheid van die werksmetode van toordokters. Dit is nie die bietjie poeier wat Koos siek gemaak het toe hy die kos geëet of drank gedrink het waarin die "toorpoeier" was nie! Nee, dis die bose gees wat saam met die poeier uitgestuur is wat Koos siek gemaak het. Sataniste is ook by magte om demone opdragte te gee om mense leed aan te doen. Iemand wat 'n satanis was, vertel hoedat hy sy pa op 'n stadium gehaat het. Hy wou sy pa dood hê. Hy het toe klein voodoo-poppies gemaak, hulle vol spelde gedruk en die demone versoek om sy pa dood te maak. Hy vertel dat sy pa daarna die een hartaanval na die ander gekry het.

Toordokters is in staat om met behulp van demoniese magte mense onbeskryflike leed aan te doen en selfs dood te maak!

In hul boek, Satanisme: Suid-Afrika se jeug in versoeking, skryf John en Helen Gardiner op bl. 88 die volgende:

"Geen werk oor satanisme en heksery is volledig sonder om na ons toordokters te verwys nie - veral aangesien talle blankes hulle vandag raadpleeg of deur hulle vervloek word. Hierdie mense maak van dieselfde duistere, demoniese magte as sataniste gebruik."

Wat toordery betref, sal 'n ernstige waarskuwing nie onvanpas wees nie. Ek het al mense teëgekom by wie daar 'n neiging is om onnodig agterdogtig te wees teenoor ander wat hulle dan kwansuis sou getoor het. Hierdie agterdog word dikwels verder aangewakker wanneer hulle by 'n toordokter was en díe hulle verseker het dat iemand wat naby hulle woon, hulle getoor het. Ons mag nie toelaat dat Satan deur sy dienaars ons gedagtes onnodig vergiftig met agterdog nie. Inligting wat toordokters en waarsêers aan mense gee wat by hulle om hulp aanklop, is nie altyd die waarheid nie.

12. OPSOMMEND: DIE OOP DEURE WAARDEUR DEMONE KAN INKOM

12.1 Oorerwing

12.2 Persoonlike betrokkenheid by die okkulte

12.3 Valse godsdienste

12.4 Swaar kinderjare

12.5 Aanhoudende sondes

12.6 Skoksituasies en traumatiese ervarings

12.7 Luister na sekere popmusiek

12.8 Pornovideo's

12.9 Vloeke

12.10 Toordery.

13. Interessantheidshalwe gee ek net hier 'n kort aanhaling uit die boek van Mark I. Bubeck, Oplewing in die Satanisme. Op bl. 51 skryf hy:

"Ek het al deur die jare met baie mense gewerk wat in die mag van die bose was en dit het my laat besef dat daar twee soorte sondes is wat as't ware die probleem 'uitnooi'. Die een is belangstelling in die okkultisme en die ander het te doen met seksuele sondes - en hier is 'n breë spektrum van sondes ter sprake."

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 4

DIE OKKULTE

Die woord," okkulte", kom van 'n Latynse woord occultus wat verborge beteken. Ons beweeg dus hier op die terrein van die geheimsinnige en bonatuurlike. Okkultiese praktyke kan direk gekoppel word aan die werking van bose magte. Daar is wêreldwyd 'n oplewing in okkultiese bedrywighede. Tienderjariges is selfs nog meer betrokke by die okkulte, omdat hulle deur hulle avontuurlustigheid en nuuskierigheid aangespoor word om al hoe dieper en dieper daarby betrokke te raak.

Weer eens is dit nie my doel om hier 'n volledige lys van alle okkultiese praktyke weer te gee nie, maar om slegs 'n bietjie meer breedvoerig uit te wei oor enkele van hierdie praktyke waarby mense die meeste betrokke is. Wat die Oosterse okkultiese praktyke betref, het ek vrylik gebruik gemaak van studiemateriaal wat deur ds. Denzel Dick opgestel is nadat hy 'n deeglike studie daarvan gemaak het.

Almal wat betrokke was by okkultiese praktyke raak ook nie noodwendig daardeur beset nie. Dit gee egter aan Satan 'n bepaalde reg op jou lewe en dit kan geestelike groei belemmer.

1. JOGA

Die woord,"joga", beteken letterlik "juk" en verwys na die vereniging met Brahman, die god van die Hindoes. Joga berus op 'n verskeidenheid van metodes (asketisme, meditasie, fisiese en asemhalingsoefeninge) wat toegepas word ten einde die pad terug te vind na god vanwaar die mens afkomstig is.

Net soos wat 'n vonk deel is van 'n vuur, is ons deel van die godheid. Daar het egter verwydering gekom tussen die vonk en die vuur. Joga, as deel van die Hindoe-godsdiens, is daarop gemik om die vonkie weer met die vuur te verenig.

Daar is verskillende skole (rigtings) in joga waarvan Hatha-joga in ons land die gewildste is. Beoefenaars van joga gee meesal te kenne dat dit nie vir hulle gaan om die godsdienstige konnotasie nie maar slegs om die doen van die oefeninge. Dit is egter 'n ope vraag of hierdie oefeninge heeltemal losgemaak kan word van die Hindoe-godsdiens. Die joga-oefeninge is dikwels die geleidelike begin van inskakeling in Hindoeïsme. Popsterre, filmsterre en vermaaklikheidskunstenaars wat aanvanklik begin het met die oefeninge, het geëindig as praktiserende Hindoeïste.

Joga-oefeninge is immers deel van die Hindoe-wyse van gebed en hierdie gebed het reeds begin met die liggaamshouding wat ingeneem word. Geen deel van joga kan dus heeltemal losgemaak word van die godsdiens-filosofie daaragter nie.

2. KARATE

Karate is ook deel van die Oosterse krygskuns. ("Kara":leeg; "te": hand.)

Karate het skynbaar ontstaan op 'n eiland tussen China en Japan en is na die Weste oorgebring deur soldate van die Tweede Wêreldoorlog. Karatekenners wêreldwyd erken dat hierdie gevegskuns nie net 'n fisiese metode is om jouself te verdedig nie, maar ook 'n geestelike. Wat hiermee bedoel word, is dat behalwe die fisiese bekwaamheid, daar ook geestelike magte betrokke is. Hierdie geestelike mag wat bv. die karate- of Judo-hou vergesel, word KI (Japannees) of CHI (Chinees) genoem. 'n Voorbeeld demonstreer hierdie mag:

Vyf kussings word op die maag van een van die leerlinge geplaas. Die meester slaan met al sy mag op die kussings. Die leerling wat onder die kussings lê, voel niks. Die rede is dat die meester slegs sy fisiese krag gebruik het. Indien die meester 'n tweede keer slaan terwyl hy konsentreer, ervaar die leerling onder die kussings pyn wanneer die KI-krag hom tref!

Die kreet wat geuiter word wanneer die karate-hou uitgevoer word, word "kiai" genoem en is die manier waarop die KI-energie vrygestel word. Karate, Judo en Kung-fu het Boeddhisme as agtergrond. By Boeddhisme is daar nie sprake van 'n persoonlike god nie. Hierdie god is 'n wêreldgees (genoem KI/CHI-energie). In die mens verdeel hierdie energie in jin en yang. Karate het ten doel om 'n perfekte balans te bewerk tussen jin en yang. Wanneer die mens by daardie punt gekom het, het hy die ware lewe - eenwording met die kosmiese gees - bereik.

Karate het ten doel om deur asemhalingsoefeninge, konsentrasie en die verskillende houe te leer om die KI-energie los te laat. Die beoefening van karate word verdedig deur te sê dat dit bloot vir selfverdediging aangewend word, maar karate kan eweneens nie losgemaak word van sy Oosterse basis nie. Baie van die handelinge wat in karate uitgevoer word, het 'n godsdienstige betekenis. Wie bv. buig vir die karate-teken, betoon eerbied aan die Taoïstiese en Boeddhistiese afgode.

Die kreet "kiai" is ook niks anders as 'n aanroep of 'n betrokke maak van die Boeddhistiese gees KI nie. Omdat 'n afgod se hulp op hierdie manier ingeroep word, is daar bonatuurlike manifestasies soos die breek van hope teëls, planke en stene sonder enige pyn. 'n Christen wat karate beoefen, moet derhalwe weet dat hy hom op 'n gevaarlike terrein begeef, nl. díe van die Oosterse godsdiens wat deur demoniese magte beheer word

                         3. AKUPUNKTUUR .

Akupunktuur is 'n genesingsmetode wat ontwikkel het uit taoïsme, een van die godsdienste van China. Taoïsme, soos die meeste Oosterse godsdienste, is panteïsties, d.w.s. die aanhangers van hierdie godsdiens glo nie in 'n persoonlike skeppergod wat mense kan liefhê en met wie jy kan praat nie. Die god in wie hulle glo, is onpersoonlik en daar gaan van hom 'n vibrasie of gees uit (genoem CHI) wat alles in stand hou. Hierdie chi-energie deurdrenk alles, ook die menslike liggaam. In die menslike liggaam verdeel hierdie chi-energie in twee sisteme, nl. yin en yang. Aanhangers van akupunktuur glo dat die chi-energie in twaalf meridiane, wat soos riviere op 'n wêreldkaart voorgestel kan word, deur die liggaam vloei. Hierdie meridiane, wat geen verband met die bloedstroom het nie, loop vlak onder die vel: ses aan die linkerkant en ses aan die regterkant van die liggaam. Ses van hierdie meridiane is yin (passief, vroulik en donker). Die ander ses is yang (energie, manlik en lig). Die yin-yang-beginsel is die kern van hierdie genesingswyse.

Die ganse heelal, maar ook die liggaam van die mens word in stand gehou deur die ewewig van hierdie twee kragte. Siekte word veroorsaak deur 'n stoornis of wanbalans tussen die yin en die yang. Daar is bv. te veel yin en te min yang in 'n orgaan. Hierdie wanbalans kan dan deur akupunktuur reggestel word en dan sal genesing plaasvind. Volgens akupunktuur-praktisyns is daar 356 (sommige beweer daar is meer) akupunktuurpunte in die liggaam. Hierdie akupunktuurpunte kan ons die "krane" noem waar die chi-energie gereguleer of getap word. Die "krane" wat hierdie regulering bepaal, is die naalde wat op bepaalde punt in die meridiane ingedruk word om die ewewig te herstel. Vlekvrye staalnaalde wat teen verskillende hoeke ingesteek word, word gebruik.

Akupunktuur werk, en daar is baie gevalle waar medici met groot sukses daarvan gebruik maak. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse vir die bestaan van die meridiane of akupunktuurpunte nie. Talle kenners van die okkulte, soos Kurt Koch en W. J. Ouweneel sê dat akupunktuur baie meer doeltreffend is by die dokters en pasiënte wat die vermoëns van 'n medium het as by ander.

Selfs al distansieer die meeste akupunktuur-praktisyns hulself van die akupunktuur-filosofie en godsdienstige agtergrond van hierdie genesingsmetode, bly die beoefening daarvan 'n taoïstiese wyse van genesing. Derhalwe kan akupunktuur wanweë sy taoïstiese agtergrond nie vir 'n wedergebore Christen aanvaarbaar wees as genesingsmetode nie.

4. SPIRITISME

Daar is duisende mense in ons land wat aan spiritistiese bewegings behoort. In kort kom hierdie lering daarop neer dat die geeste van afgestorwenes met die lewendes in kontak kan kom deur middel van 'n tussenpersoon (medium). Die omgekeerde gebeur ook, nl. dat die lewendes kontak kan soek en in aanraking kan kom met die geeste van afgestorwenes. Dit was immers die versoek wat Saul tot die dodebesweerster in En-Dor gerig het:

"Tree vir my as waarsegster op deur die gees van 'n afgestorwene, en laat vir my die een opkom wat ek vir jou sê " (I Sam. 28:8).

Wat in alle waarskynlikheid gebeur, is dat demone die voorkoms of die stem van die afgestorwene namaak en dan is die familie heeltemal tevrede dat hulle dan kwansuis met die afgestorwe dierbare kontak gemaak het. Op dieselfde manier lei Satan waarskynlik ook die swartmense om die bos wat reken dat hulle met hul voorouers kontak maak. Deut. 18:11 en Lev. 20:27 stel dit onomwonde dat hierdie praktyk 'n gruwel in die oë van die Here is:

"Enige mens wat hom ophou met die oproep van geeste of met beswering, moet doodgemaak word. Hy moet met klippe doodgegooi word. Hy verdien die dood" (Lev. 20:27).

5. ASTRALE PROJEKSIE

Beoefenaars van astrale projeksie is in staat om, met behulp van bose magte, hul gees uit hul liggaam te verplaas. Die gees is dan in staat om vrylik rond te beweeg en waarnemings op ander plekke te doen. Hierdie siel wat uit die liggaam tree, word die astrale liggaam genoem.

6. WAARSÊERY

Mense se nuuskierigheid en onsekerheid omtrent die toekoms is die vernaamste rede waarom hulle hul wend tot waarsêery. Baie waarsêers beoefen hul "beroep" met behulp van bose magte (Hand. 16:16) wat aan hulle die verlangde inligting gee. Mense wat al by waarsêers was, kan daarvan getuig dat die betrokke waarsêer feitlik alles van hulle geweet het toe hulle daar ingestap het sonder dat hulle mekaar nog ooit persoonlik ontmoet het. Baie van die voorspellings kom waar, maar daar is beslis ook gevalle waar daar sommer net 'n spul leuens aan 'n nuuskierige opgedis word wat steeds effektief deur Satan gebruik kan word om 'n negatiewe invloed op daardie persoon se lewe te hê.

Daar is verskillende vorme van waarsêery:

6.1 Lees van die kristalbal;

6.2 Handpalmlesery;

6.3 Lees van die teekoppie;

6.4 Kaarte;

6.5 Gooi van dolosse;

6.5 Swaai van die pendulum;

6.6 Astrologie (sterrevoorspelling).

Daar is soveel mense wat in verskillende tydskrifte lees wat die sterre voorspel, dat ek 'n bietjie meer breedvoerig daarop wil ingaan. Die mens wat sy oë van God weggedraai het, het al hoe meer na die uitspansel begin kyk en begin glo dat die son, maan en sterre 'n invloed op sy lewe het. Die Sodiak (diereriem) is 'n breë denkbeeldige gordel aan die hemelruim. Reeds in die antieke tyd is die sodiak in twaalf dele verdeel vir elke maand van die jaar, en elkeen met 'n bepaalde sterrebeeld. Hierdie sterrebeeldfigure is die Waterdraer, Visse, Ram, Leeu, ens. Talle mense wat hierdie rubrieke lees, is gou om te beweer dat hulle tog niks glo wat hulle lees nie. Dit is nie altyd die waarheid nie! Die invloed wat hierdie voorspellings op die gedagtes en gedrag van mense het, moenie onderskat word nie. Satan buit hierdie bygeloof uit om beheer oor die lewens van mense te verkry.

Luister wat sê God in Jesaja 47:13:

"Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens. Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom"

Uit die Bybel is dit duidelik dat die Here sterk gekant is teen elke vorm van waarsêery omdat elkeen van ons se toekoms alleen in God se hande is en dit nie vir ons nodig is om inligting te probeer bekom waaroor ons nie behoort te beskik nie.

"U het U volk Jakob verstoot: hulle gee hulle oor aan die waarsêery van die ooste, beoefen towery soos die Filistyne en hou saam met die vreemdes vas aan bygeloof." Jes. 2:6.

"Enigiemand wat aan My ontrou is deur hulp te soek by geeste of waarsêers, teen hom sal Ek optree: Ek sal hom van sy volksgenote afsny" (Lev. 20:6).

7. VOORVADERAANBIDDING BY DIE SWARTMENSE

Kontak met die geeste van die voorvaders speel 'n geweldige groot rol in die godsdienstige lewe van baie swartmense. As agtergrond kan ons sę dat voorvaderverering baie nou gekoppel is aan die swartman se godsbegrip. God is vir hom ver en onwerklik. Al wat werklik naby is, is die geeste van die afgestorwe familielede. Hulle is nie ver weg nie, maar net onsigbaar, en hierdie afgestorwe familielede is intens betrokke by die familie wat nog lewe.

Ds. Denzel Dick noem in sy boekie, Begrip vir die Zoeloe, enkele van die groot geleenthede waarby die voorvaders betrek word:

7.1 Geboorte

Die voorvaders word by die geboorte van elke kind betrek. Terwyl die geboorteproses in die hut aan die gang is, sal iemand rondom die hut stap en die gras met 'n kierie slaan terwyl hy die voorvaders skerp aanspreek om te help met die geboorte.

7.2 Die kind se eerste toewyding

Drie maande na die geboorte van 'n kind, vind die toewydingsfees plaas waartydens die kind aan die voorvaders gewy word met die woorde: "Hier is julle kind, kyk na hom."

7.3 Siekte

Daar is net een van twee redes waarom 'n mens siek word, nl. toordery en die voorvadergeeste. Die toordokter word gewoonlik geraadpleeg om te wete te kom om watter rede die persoon siek is. Dit kan wees dat die toordokter dan die persoon aansê om bv.'n bok te slag vir die voorvaders sodat hy weer gesond kan word!

7.4 Grootmeisiestadium

Wanneer die Zoeloe-meisie die ouderdom van 16 jaar bereik het, word daar vir haar of vir 'n paar meisies van die kraal 'n partytjie gegee, waartydens daar vir die voorvaders 'n bok geslag word en hulle gevra word om verder vir die meisie te

sorg.

7.5 Huwelik

By die huwelik word die voorvaders ook weer betrek deur die slag van 'n bees of bok.

7.6 Die dood

Ongeveer ses maande tot 'n jaar na die afsterwe van 'n familielid word daar 'n bees of bok geslag waartydens daar met die afgestorwene gepraat word.

Die geeste van die voorvaders word gereeld geraadpleeg - veral as iemand van 'n oorledene gedroom het. Verder word die voorvaders bedank vir die reën, wanneer 'n motor gekoop is, ens. Die voorvaders is betrokke by alles wat gedoen word.

Hierdie verering en aanbidding van die voorvadergeeste mag miskien verskil van bevolkingsgroep tot bevolkingsgroep, maar feit bly staan, dat die swartman 'n groot plek toeken aan die voorvadergeeste. Daar word beweer dat die slag van bokke of beeste vir die voorvaders 'n foutiewelike nabootsing is van die diere-offers in die Ou Testament.

Selfs swartmense wat tot bekering gekom het en by 'n Christelike kerk ingeskakel het, hou nog vas aan hierdie stuk "kultuur". Prof Attie van Niekerk skryf in sy boekie, Saam in Afrika, dat daar getuienisse bestaan dat swartmense - met al die politieke veranderinge - meer vry voel om openlik te praat oor hul godsdiens en ou gebruike. Daar is selfs by geestelike leiers 'n ontstellende vashou aan die geloof in die geeste van die voorvaders en daar is baie van hierdie leiers wat in die geheim of openlik die toordokters besoek. 'n Sekere swart leraar vertel die volgende:

"Onlangs het 'n sangoma daar by ons tot bekering gekom. Na haar bekering sê sy vir my: 'Jy was die eerste leraar in 'n lang tyd wat nie na my toe gekom het nie’ ".

Daar sal aan die swartman uit die Skrif verduidelik moet word dat afgestorwenes geen kontak met lewendes kan hê nie en dat God ons verbied om kontak met dooies te hê:

"Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie" (Deut. 18: 10 - 11).

8. DIE OKKULTE IN KINDERPROGRAMME OP TELEVISIE, VIDEO'S EN OOK IN SPEELGOED

Dit is ongelukkig waar dat kinders groot dosisse van die okkulte inkry uit sommige kinderprogramme op televisie en videos, en ook wat speelgoed betref. Satan gebruik hierdie dinge op 'n meesterlike wyse om die okkultiese wêreld as onskuldig en skadeloos aan die kind voor te hou.

Dit is nie moontlik om in besonderhede in te gaan op al die programme, video's en speelgoed wat 'n nadelige uitwerking op 'n kind se gemoed kan hê nie. Enkele opmerkings verdien egter aandag:

8.1 Ons moet onthou dat 'n kind se gedagtewêreld soos 'n spons is wat alles opsuig wat hy sien en hoor. En dít waarna 'n kind kyk en waarmee hy speel, het 'n invloed op sy lewe - óf ten goede, óf ten kwade.

8.2 In die verbeeldingswêreld van die kind is verhale en speelgoed klein replikas van die volwasse wêreld. Daar word beweer dat kinders onder die ouderdom van sewe jaar nie die verskil tussen fantasie en werklikheid ken nie.

8.3 Programme, video's en speelgoed wat 'n okkultiese inslag het, begelei 'n kind se verbeeldingswêreld na die wêreld van Satan. Indien ouers nie van kleins af hul kinders beskerm teen hierdie sg. onskuldige okkultiese invloede nie, sal ons kinders, wanneer hulle die tienerstadium bereik het, meer kennis van die okkulte hę as van God.

8.4 Ons moet daarop let dat hierdie okkultiese inligting op 'n baie subtiele wyse aan die kind oorgedra word deur onskuldige en prettige karakters soos beertjies, ponies, feetjies en klein dogtertjies.

8.5 Dit is nodig om enkele riglyne aan ouers te gee sodat kinderprogramme, video's en speelgoed beoordeel kan word met die oog op enige moontlike okkultiese invloede:

8.5.1 Moenie vanselfsprekend aanvaar dat alle kinderprogramme wat op televisie aangebied word, vry is van die okkulte nie.

8.5.2 Moenie toelaat dat kinders te lank aan televisieprogramme blootgestel word nie. Uit 'n opname wat in Amerika gedoen is, is gevind dat die gemiddelde voorskoolse kind drie ure per dag voor die televisie deurbring terwyl Amerikaanse vaders ongeveer sewe en dertig sekondes per dag mondelinge kommunikasie met hul voorskoolse kinders het!

8.5.3 Probeer aan die kind verduidelik waarom 'n sekere program nie goed is om na te kyk nie en waarom dit raadsaam is om nie met sekere speelgoed te speel nie.

8.5.4 Vermy sover moontlik speelgoed wat geweld aanwakker soos bv. oorlogspeelgoed. Dieselfde geld vir programme op televisie waar geweld aan die orde van die dag is. Ondersoeke het aan die lig gebring dat daar 'n definitiewe verband bestaan tussen die speel met oorlogspeelgoed en die gevolglike uiting van aggressiewe gedrag by kinders. Verduidelik aan die kind dat geweld nie die aangewese manier is om konflik op te los nie en dat probleme tussen mense nie op 'n aggressiewe manier opgelos behoort te word nie. Deur té veel aan tonele van geweld blootgestel te wees, skep by die kind die verkeerde indruk, naamlik dat dit die manlike manier is om jou sin te kry.

8.5.5 Oppas ook vir programme en videos waarin karakters optree wat bonatuurlike kragte besit. Kinders glo later dat hierdie karakters werklike krag besit en dat hulle hierdie karakters kan vra om hulle te help. Ouers getuig daarvan dat hulle kinders, wanneer hulle bang is, al na hierdie karakters geroep het om hulp! Hierdie karakters word soms tot gode verhef. Wil ons werklik hê ons kinders moet glo dat daar fiktiewe karakters is wat sulke bonatuurlike kragte besit? Moet ons hulle nie veeleer leer dat net God almagtig is en dat Hy die enigste Heerser is na wie ons met vrymoedigheid ons probleme kan neem nie?

8.5.6 Vermy voorts ook programme waarin toordery of toorkunste 'n prominente rol speel, en 'n feetjie of ander karakter met 'n towerstaffie eenvoudig alles kan regmaak of bonatuurlike dinge kan doen. Wanneer 'n mens weet dat toordery en toorkunste 'n werklikheid is wat beoefen word met behulp van demoniese magte, dan is hierdie kinderprogramme waarin hierdie dinge voorkom ook nie so onskuldig nie.

8.5.7 Wees ook op die uitkyk vir verhale waarin astrale projeksie voorkom en 'n karakter eenvoudig deur die lug kan sweef na ver plekke, en selfs ander se gedagtes kan lees.

8.5.8 Moet kinders ook nie blootstel aan programme waarin waarsêery beoefen word nie. Hulle moet van kleins af geleer word dat elke vorm van waarsêery 'n gruwel in die oë van die Here is.

8.5.9 Vermy ook programme en speelgoed waar die karakters hekse of demone is of 'n monsteragtige voorkoms het.

8.5.10 Soms is daar selfs godsdienstige kinderprogramme waarin karakters optree wat oor magiese kragte beskik wat vermeng is met die okkulte. Die suiwer geestelike boodskap van so 'n program gaan dan totaal verlore.

Slotopmerking

By al die vooruitsigte wat die nuwe Suid-Afrika bied, moet die Christendom nie aan die slaap gevang word nie. Die duiwel is nog steeds (nou eers!) besig om soos 'n brullende leeu rond te loop en die ware kerk van Jesus moet nugter en wakker wees. Dwaling en misleiding is besig om onder ons oë plaas te vind. Die volgende onrusbarende dinge is byvoorbeeld besig om pos te vat:

1. Daar is 'n sterk poging om alle godsdienste gelyk te stel.

As jy 'n goeie Christen is, gaan jy hemel toe en dieselfde gebeur ook met jou as jy 'n goeie Moslem, Boeddhis of Hindoe is. Alle paaie lei maar uiteindelik na Rome. Dit is natuurlik die taal van die New Age-beweging. Jesus word nie (meer) as die enigste Verlosser beskou nie. Vir ons as Christene geld Johannes 14:6 egter waar Jesus sê:

"Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie."

Alhoewel ons godsdiensvryheid moet aanvaar, is dit vir die christendom onaanvaarbaar dat daar 'n ander weg van verlossing ook kan wees buite Jesus om. Israel het juis in ballingskap gegaan het omdat hulle die diens aan die ware God vermeng en gelykgestel het met die heidense afgodediens nie.

2. Okkultiese genesingspraktyke tree al hoe meer op die voorgrond.

Tradisionele genesers kry al groter erkenning. So byvoorbeeld het 'n sangoma tydens 'n program op televisie verklaar dat sy 'n Christen is, maar dat dit die voorvadergeeste is wat deur haar werk om mense gesond te maak. Volgens haar is Jesus en die voorvadergeeste presies dieselfde! Okkultiese metodes van genesing is besig om vinnig veld te wen en so vind daar 'n geleidelike samevloeiing plaas tussen wetenskaplike en verdagte genesingspraktyke. Die wortels van laasgenoemde is meesal diep in die Oosterse godsdienste en geneeskunde geleë. Hierdie New Age-terapieë is so 'n vermenging van waarheid en dwaling dat selfs Christene nie altyd in staat is om te kan onderskei nie.

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 5

IS DAAR GRADE VAN BESETTING?

Die Bybel gebruik verskillende terme om besetting deur bose geeste aan te dui:

1. "Daimonizomai", wat vertaal word met onder die invloed of onder die mag van 'n bose gees (Matt. 4:24, 8:16, 8:28, 9:32,12:22, 15:22 en Markus 1:32).

2. "Enogleoo", wat vertaal word met om te ly onder 'n bose gees (Lukas 6:18).

3. "En", wat in of met beteken (Mark. 1:23 en 5:2).

4. "Egein", wat vertaal word met om te hê (Luk. 8:27, 4:33, 13:11, Markus 7:25 en 9:17).

5. "Selenaizomai", wat vertaal word met om geestelik versteurd te wees (Matt 17:15).

6. "Lambanoo", wat vertaal word met om te gryp (Luk. 9:39).

ENKELE AFLEIDINGS

Die verskillende terme wat die Bybel gebruik vir besetting deur bose geeste, dui nie grade van besetting aan nie.

In sommige kringe word daar op grond van hierdie verskillende terme onderskeid gemaak tussen 'n binding, oppressie en posessie. Die bedoeling sou dan wees om aan te dui dat in sommige gevalle jy

1. slegs op 'n manier gebind kan wees, of

2. deur 'n bose gees sterk beïnvloed word, of

3. 'n bose gees in jou kan hê.

Uit die verskillende skrifgegewens is dit af te lei en moet dit baie duidelik gestel word dat die Bybel geensins ruimte maak vir so 'n siening nie. Al word die verskillende Griekse terme verskillend vertaal, dui al die verskillende terme daarop dat daar demone in daardie betrokke mense was en dat Jesus die demone uitgedryf het.

Hierdie verskillende Griekse terme word deur die Bybelskrywers afwisselend gebruik, maar almal praat van presies dieselfde ding nl. dat daar demone in daardie mense was.

VOORBEELDE

1. Die besetene van Gerasa

Matteus gebruik die term "daimonizomai" (om onder die mag van 'n bose gees te wees).

Markus gebruik die term "en" (om 'n bose gees in jou te hê).

Lukas gebruik die term "egein" (om te hê).

Al gebruik hierdie drie Bybelskrywers dus elkeen 'n verskillende term, praat al drie van een en dieselfde ding nl. dat daar demone in daardie man van Gerasa was wat uitgedryf is.

2. Die dogter van die Griekse vrou

Matteus gebruik die term "daimonizomai" (om onder die mag van 'n bose gees te wees).

Markus gebruik die term "egein" (om te hê).

Beide Matteus en Markus wil sê dat daar 'n bose gees in daardie dogter was en dat Jesus haar daarvan bevry het.

3. Die seun wat nie deur die dissipels gehelp kon word nie

Matteus gebruik die term "selenaizomai" (om verstandelik versteurd te wees).

Markus gebruik die term "egein" (om te hę).

Lukas gebruik die term "lambanoo" (om deur die gees gegryp te word).

Weer eens praat al drie die Bybelskrywers van presies dieselfde ding.

 

4. Die vrou van Lukas 13

Hierdie vrou was volgens vs 16 al vir agtien jaar deur Satan gebind. Dit beteken nie dat die Satan haar net so half van buite af op een of ander manier gebind het nie! Volgens vs 11 het hierdie vrou 'n bose gees in haar gehad, want die term wat daar (vs 11) gebruik word is "egein" (om te hê).

Al staan hier nie in soveel woorde dat Jesus 'n gees van krankheid uitgedryf het nie, dui die term "egein" daarop dat sy, soos in al die ander gevalle waar hierdie term gebruik word, 'n bose gees in haar gehad het.

Hierdie gedeelte word verkeerdelik gebruik om te beweer dat verbondsmense (soos hierdie vrou) nie demone in hulle kan hê nie, maar slegs deur die duiwel gebind kan wees. As dan nou aanvaar word dat hierdie vrou, volgens vs 11, 'n bose gees in haar gehad het, dan is dit verder ook duidelik dat Jesus die term "bind" in 'n simboliese sin gebruik het. Soos wat mense op die Sabbatdag 'n bees of 'n donkie van die krip losmaak en laat suip (vs 15), so, sê Jesus, maak Hy hierdie vrou ook los van die band waarmee Satan haar al vir agtien jaar lank gebind het.

Dit mag wel so wees dat daar "grade van besetting" is, maar uit die verskillende terme wat die Skrif gebruik om besetting deur bose geeste aan te dui, kan die afleiding vir die gebruik van terme soos "binding", "oppressie" en "posessie" beslis nie gemaak word nie. Ek reken dat daar slegs onderskei moet word tussen 'n bose gees in jou en 'n bose gees wat jou van buite af beïnvloed. As met die term "binding" bedoel word dat 'n bose gees jou van buite af sterk beïnvloed, dan het ek vrede met die gebruik van hierdie term.

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 6  

KAN 'N CHRISTEN 'N BOSE GEES HÊ?

Hierdie vraag is by geleentheid aan 'n bekende kenner van die okkulte gestel, en hy het min of meer as volg geantwoord:

"Die teoloë sê nee, terwyl mense wat in die praktyk staan, wéet dat 'n Christen 'n bose gees kan hê!"

Hierdie vraag is ongetwyfeld die vraag waaroor daar die meeste gedebateer word as daar oor bevryding van bose magte gepraat word. Kerke dwarsoor die wêreld erken dat daar twee wyd-uiteenlopende sieninge oor hierdie saak is. Daar is diegene wat sê: "Dit is onmoontlik dat 'n Christen 'n bose kan hê" terwyl die ander groep met net soveel oortuiging sê: "Dit is moontlik!" Kerke en gemeentes het al oor hierdie vraag geskeur. Dit is egter opvallend dat mense wat beweer dat 'n Christen nie 'n bose gees in hom kan hê nie, in die reël mense is wat geen praktiese ondervinding op hierdie gebied het nie.

Die argument wat konsekwent aangevoer word ten gunste daarvan dat 'n Christen nie 'n bose gees kan hê nie, is dat die Heilige Gees nie saam met 'n bose gees in dieselfde liggaam kan woon nie.

Wat myself betref, wil ek eerlik wees en sê: Die nugtere feit dat 'n Christen wel 'n bose gees kan hê, het my aan die begin van hierdie bediening nagte laat wakker lê! Ek wou dit aanvanklik ook nie glo nie, maar die werklikheid het my spoedig van standpunt laat verander. Ek wil egter toegee dat daar mense is wat sê dat hulle Christene is terwyl hulle in werklikheid naamchristene is wat nie werklik wedergebore is nie. Dit verander egter niks aan die feit dat daar ware Christene is in wie daar demoniese magte werksaam is nie.

Miskien is 'n verdere rede waarom mense nie kan aanvaar dat 'n Christen 'n bose gees in hom kan hê nie, die volgende: Mense reken dat 'n bose gees in iemand daardie persoon heeltemal beheer, hom kranksinnig en wreed maak asof dit die enigste simptome van besetting deur 'n bose gees is. Niks is verder verwyder van die waarheid nie! Ek glo dat demone in ongelowiges (heidene) veel sterker kan manifesteer as in Christene. In 'n Christen se lewe beheer Jesus deur Sy Heilige Gees daardie lewe en kan 'n demoon slegs in 'n sekere area van so iemand se lewe beperkte mag uitoefen.

Kent Philpott en R.L. Hymers sê in hul boek, The Deliverance Book, op bl. 21 die volgende:

1. 'n Demoon kan beperkte kontrole in iemand hê.

2. 'n Persoon (in wie daar 'n bose mag is) mag onder die meeste omstandighede normaal voorkom.

Behalwe dat die praktyk oor en oor bewys dat 'n Christen 'n bose gees kan hê, wil ek ook uit die Skrif probeer aantoon dat so iets wel moontlik is.

1. Kom ons begin met die argument dat die Heilige Gees onmoontlik nie saam met 'n bose gees in dieselfde liggaam kan woon nie. Volgens Gal. 5: 16-17 woon die Heilige Gees hierbinne saam met my sondige natuur! Paulus sê tog dat die Heilige Gees en my sondige natuur hierbinne in 'n voortdurende stryd gewikkel is. Nou, as 'n mens mooi daaraan dink dat die Heilige Gees in 'n liggaam van sonde woon, is dit ook nie meer so 'n totaal onaanvaarbare gedagte dat die Heilige Gees ook saam met 'n bose gees in dieselfde liggaam kan wees nie.

2. Volgens Markus 6:12-13 het die apostels in opdrag van Jesus gaan preek dat die mense hulle moet bekeer en daarby het hulle ook nog duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Nou wil ek vra: As demone in mense vanself padgee tydens bekering, is die opdrag om mense op te roep tot bekering en om duiwels uit te dryf, mos 'n oorbodige opdrag. Jesus kon dan mos maar net vir die apostels gesê het om mense op te roep tot bekering en dan sal die duiwels, wat daardie mense moontlik mag hê, vanself padgee.

Nee, in die praktyk werk dit nie altyd so nie. Vir my wil dit lyk asof daar die volgende volgorde kan wees: Gaan preek - roep mense op tot bekering - en dryf dan ook duiwels uit daardie mense uit indien daar wel duiwels in hulle is. Dit het in elk geval nie sin om demone uit mense te dryf wat nie die Here wil dien nie.

H. A. Maxwell Whyte maak in sy boek, A manual on exorcism, op bl. 121 daarvan melding dat dit uit die geskrifte van sommige kerkvaders blyk dat dit algemene gebruik in die vroeë kerk was om 'n nuwe bekeerling eers te bevry van moontlike demoniese magte voordat die doop bedien is.

Natuurlik kan mense in wie daar demone is, oombliklik bevry word met hul bekering. Ek glo dat daar baie mense is met wie dit inderdaad gebeur, maar dit is geen vanselfsprekendheid nie.

Ek het die getuienisse van talle Christene gehoor, veral mense wat met die okkulte en vernaamlik met satanisme deurmekaar was, wat lank na hul bekering gehelp moes word om van bose magte in hulle vry te kom. Hierdie mense se persoonlike ondervinding en getuienisse kan nie deur ons "teologie" van die tafel gevee en as onmoontlik afgemaak word nie.

Op die vraag waarom dit dan so is dat sommige mense bevry word met bekering en ander nie, kan ek geen antwoord verstrek nie. Ek weet nie!

Van die talle voorbeelde uit ons eie bediening, wil ek graag van die volgende een vertel: 'n Sekere vrou was jarelank siek. Sy het voortdurend hoofpyne gekry, pyne in die rug, pyne op die maag en bors. Op 'n stadium het sy vir my gesê: "Ek is nie meer lus om verder te leef nie. Dit is geen plesier om te lewe as jy elke dag van jou lewe vol pyne is nie." Pas nadat ons met bevrydingswerk begin het, vra sy my eendag om vir haar te bid en seker te maak of daar nie demone in haar is wat haar so siek maak nie. Aanvanklik wou ek nie omdat sy immers 'n toegewyde vrou was en ek op daardie stadium nooit kon dink dat haar probleme demonies van aard kon wees nie. Ek het gebid en die Here gevra dat Hy op een of ander manier vir ons moet wys of haar probleme demonies van aard was of nie. Terwyl ek nog besig was om te bid, het sy in 'n beswyming verval. Ek kon my oë nie glo nie en het gesê: "As hier 'n bose gees in hierdie vrou is, gebied ek jou om jou naam bekend te maak." Die volgende oomblik praat die demoon uit haar (terwyl sy nog in 'n beswyming is) en antwoord dat hulle sewe in getal is en dat hulle in haar gekom het toe 'n toordokter haar as kind getoor het. Nadat die vrou bevry is en weer by haar volle positiewe was, vra ek haar of sy as kind enige kontak met 'n toordokter gehad het. Sy vertel toe dat hulle as gesin langs 'n toordokter gewoon het en dat hy aan haar pa gesê het dat hy nog die hele gesin gaan toor omdat die pa eendag vir hom gelag en gesê het dat hy nie glo in die werk wat hy, die toordokter, doen nie. Die punt wat ek wil maak, is dit: Hierdie vrou is deur demone beset voor haar bekering. Toe sy wel latere jare tot bekering gekom het, het daardie demone wat reeds in haar kinderjare ingekom het nie vanself padgegee nie. Hulle moes lank na haar bekering daardie middag in Jesus se Naam uit haar gedryf word.

3. Daar is teoloë wat beweer dat selfs nie eens verbondsmense deur demone beset kan wees nie, maar slegs deur die duiwel op 'n manier gebind kan wees. Besetting deur bose geeste - so word beweer - kan slegs onder die heidene voorkom. Markus 1:39, Lukas 4:41 en Matt. 8:16 sê dat Jesus duiwels uit baie mense gedryf het, soms selfs in die sinagoges. Watter mense was hierdie? Was hulle heidene? Was dit miskien mense wat buite die verbond gestaan het? Nee! Dit was almal Jode wat tot die verbond van God behoort het. Jesus bevry hulle dan in die sinagoges! Maria Magdalena was ook 'n Jodin wat deel van die verbondsvolk was en tog moes Jesus haar bevry van sewe demone wat in haar was.

Soos ek reeds in die vorige hoofstuk probeer aantoon het, het die vrou van wie ons in Lukas 13 lees, 'n bose gees in haar gehad. Watter soort vrou was sy? Sy was, om mee te begin, ten minste 'n kerkganger, want Jesus het haar skynbaar die oggend na 'n diens bevry. Maar wat nog belangriker is, is die feit dat Jesus haar in vs 16 'n kind van Abraham noem. Nou wil ek dadelik toegee dat nie alle Jode (kinders van Abraham) ook kinders van God was nie. Maar 'n mens kan nie anders as om uit Jesus se woorde die afleiding te maak dat hierdie vrou, soos die Bybel met Verklarende Aantekeninge (1958-uitgawe) sê, "'n ware gelowige" was nie.

"En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur Satan gebind is. Mag sy dan nie op die Sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?" (Lukas 13:16).

Al was hierdie vrou dus 'n verbondskind en selfs 'n ware gelowige, het sy vir agtien jaar lank met 'n bose gee in haar geloop wat haar liggaam heeltemal verswak het.

4. Mense wat beweer dat 'n Christen nie 'n bose gees kan hê, of dat jy nie beset kan raak terwyl jy 'n Christen is nie, beroep hulle graag op I Joh. 5:18:

"Ons weet dat iemand wat 'n kind van God is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie."

Kom ons aanvaar dat die Afrikaanse vertaling (1983) van hierdie ietwat moeilike vers korrek is. Hierdie vers sê dan twee dinge:

'n Kind van God kan nie na sy bekering voortgaan om in sonde te lewe soos voor sy bekering nie.

b) Jesus bewaar ook die kind van God sodat die duiwel nie 'n houvas op sy lewe verkry nie.

Nou weet ons egter dat kinders van die Here na hul bekering wel weer in sonde kan val en selfs vir jare in sonde kan leef voordat hulle opstaan en terugkeer na die Here toe. Daar is talle Christene wat bv. betrokke raak by ongeoorloofde en sondige liefdesverhoudings en selfs by okkultiese bedrywighede en lank daarmee voortgaan voordat ware berou en bekering intree. Terwyl 'n Christen besig is om in sonde te lewe, kan hy tog nie aanspraak daarop maak dat Jesus hom teen die duiwel moet bewaar nie! Die belofte dat Jesus my bewaar sodat die duiwel nie 'n houvas op my moet verkry nie, kan tog nie losgemaak word van my eie verantwoordelikheid om weg te bly van sonde en demoniese praktyke nie. Ek kan tog nie in 'n hok vol honger leeus instap en verwag dat die Here my moet bewaar net omdat ek sy kind is nie. Ek het mos darem self ook 'n verantwoordelikheid om nie my eie lewe onnodig in gevaar te stel nie. Die belofte wat die Here ons in I Kor. 10:13 gee, nl. dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, kan tog nie losgemaak word van die vermaning dat ons aan die duiwel geen vatkans moet gee nie (Ef. 4:27).

Nee, 'n Christen wat nie in verbondenheid met Jesus lewe nie, is 'n oop teiken vir die aanslae van die duiwel. Slegs wanneer 'n Christen in volkome gehoorsaamheid aan die Here lewe kan hy aanspraak maak op Jesus se bewaring teen die duiwel en sy bose magte. I Joh. 5:18 kan dus nie ongekwalifiseerd gebruik word om daarmee te probeer bewys dat 'n Christen nie 'n bose gees kan hê of deur 'n bose mag beset kan raak nie.

Of dit nou vir ons denke aanvaarbaar is of nie, 'n Christen kan siek word en selfs vernietigende kieme en virusse inkry al woon die Heilige Gees in hom; 'n Christen kan vir jare met diep emosionele wonde in sy gees rondloop al woon die Heilige Gees in hom en 'n Christen kan ook 'n bose gees in hom hê en as hy afdwaal kan hy beset raak omdat hy onder die beskermende "sambreel" van God uitbeweeg het! Omdat ek egter 'n christen is, is ek geregtig daarop om bevry te word van demoniese magte wat in my mag wees. Deur Sy oorwinning aan die kruis het Jesus immers voorsiening gemaak vir my redding en bevryding. In Jesus se Naam is volkome bevryding van demoniese magte in my lewe moontlik!

Kom ons hou op met nuttelose debatvoering oor hierdie saak en kom ons sê vir mekaar: Daar is mense wie se probleme demonies van aard is - of hulle nou Christene is of nie. Dit maak ook nie regtig saak of daar demone in hulle is en of hulle slegs deur demone "gebind" word nie. Kom ons help liewer hierdie mense om vry te kom van die vernietigende werk van Satan en sy bose magte. Laat ons nie mekaar op hierdie terrein so beveg dat ons in gebreke bly om die duiwel te beveg nie. Hy en sy bose magte is ons gesamentlike vyande!

 

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 7

NIE 'N DEMOON AGTER ELKE BOS NIE

 

Dit is 'n mistasting om agter elke siekte, afwykende gedragspatroon of sonde te gaan soek vir 'n bose gees.

Indien dit so was, sou mense redelik maklik gehelp kon word.

As iemand siek is, dryf jy net 'n duiwel of twee uit en gesond is die persoon!

As iemand 'n sielkundige probleem het, dryf jy 'n duiwel uit en normaal is die persoon!

As iemand sukkel met 'n bepaalde sonde, dryf jy net 'n paar duiwels uit en weg is die stryd teen sonde!

Dit is tog nie wat die Bybel leer nie en die praktyk ken ook nie so 'n eenvoudige oplossing nie.

1. SIEKTE

Is dit waar, soos sommige beweer, dat alle siektes van die duiwel is en dat die duiwel in geval van siekte net eenvoudig weerstaan moet word of dat demone van krankheid uitgedryf moet word?

Sonder om die moeilike onderwerp van genesing volledig te behandel, kan 'n mens seker sonder vrees vir teenspraak ten minste die volgende sê:

Alle siektes is die gevolg van die sondeval.

As daar nie sonde in die wêreld gekom het nie, sou daar klaarblyklik ook nie siekte en lyding gewees het nie.

Aangesien die duiwel agter die sondeval sit, is hy verantwoordelik vir siektes en lyding in die wêreld, maar ons kan nooit sê dat alle siektes en kwale die direkte werk van 'n bose gees in iemand is nie.

Volgens Lukas 6:18,7:21 en Hand. 5:16 was daar wel siektes wat deur bose geeste veroorsaak is. Kom ons bekyk Luk.6:18 van nader: Volgens hierdie vers het daar 'n menigte mense gekom om na Jesus te luister en van hul siektes genees te word. Maar dan gaan die teks verder om te sê:

"..ook die wat onder bose geeste gely het, is gesond gemaak."

Die logiese afleiding is dus: Daar is siektes waarvoor daar 'n fisiese verklaring is (al is die siekte dan ook die indirekte gevolg van die sondeval). Hierdie siektes kan voor gebid word of ons kan daarmee na 'n geneesheer gaan omdat dit nie deur die direkte werk van demone veroorsaak word nie. Daar is beslis egter ook siektes wat aan die direkte werk van demone toegeskryf kan word. Uit die praktyk het ons geleer dat, veral by toordery, baie van die pyne wat mense ervaar, die direkte werk van bose geeste is en dat hierdie pyne onmiddellik verdwyn sodra bevryding van bose magte plaasgevind het.

Dit is dus 'n dwaling om 'n bose gees te gaan soek agter elke siekte en kwaal, maar dit moet ook in gedagte gehou word dat daar gevalle is waar so iets wel moontlik is.

2. SIELKUNDIGE PROBLEME

Daar is mense met sg. persoonlikheidsprobleme wat nie deur sielkundiges gehelp kan word nie, bloot omdat hul probleem nie sielkundig nie, maar demonies van aard is.

Ek het onlangs nog die getuienis gehoor van iemand wat vir jare sielkundige hulp ontvang het vir woedebuie en depressie en geen baat daarby gevind het nie. Eers nadat daar bevryding van bose magte plaasgevind het, het daar 'n radikale verandering begin intree.

Daarmee beweer ek gladnie dat sielkundiges, veral Christen-sielkundiges, nie uiters waardevolle hulp aan mense kan bied nie. Daar is inderdaad oorvloedige getuienisse van mense wat veel baat gevind het by die leiding en hulp wat hulle van gelowige sielkundiges ontvang het.

Ek wil egter net noem dat 'n gelowige wat probleme in hierdie area van sy lewe het, onder geen omstandighede 'n sielkundige behoort te raadpleeg wat nie 'n belydende Christen is nie. Ons as Christene kan nie ons diepste probleme en nood deel met mense wat nie werklik instrumente in die Here se hand is nie. Dit is ook te betwyfel of sielkundiges wat mense nie uitbring by Christus en die Skrif nie, hoegenaamd waardevolle en blywende hulp aan mense kan verleen.

Die vraag is net: "Maak sielkundiges enige ruimte vir bevryding, soos die Bybel daarvoor ruimte maak?" Dit is net verstommend dat lidmate dikwels sonder huiwering na sielkundiges verwys word sonder dat die moontlikheid van bevryding as oplossing eers oorweeg word. Sielkundige hulp en bevryding hoef gladnie teenoor mekaar gestel te word nie. Daar behoort ruimte te wees vir beide. In Amerika is daar trouens 'n vereniging van Christene gestig waaraan baie professionele mense behoort, o.a. psigiaters en sielkundiges, wat openlik verklaar dat hulle bevryding as deel van hul terapie beskou.

3. SONDE

Is daar 'n verskil tussen demoniese besetting ('n bose gees in jou) enersyds, en die begeertes van die sondige natuur wat my ook kan laat sondig, andersyds? Anders gestel: hoe sal 'n mens weet of daardie sterk drang wat jy het om sonde te doen die werk van 'n bose gees in jou is en of dit nie maar net jou eie sondige begeertes is wat jy moet aflê en doodmaak nie?

Iemand worstel bv. met onbeheerbare woedebuie. Is dit nou die werk van 'n bose gees of is dit een van die aardse dinge wat nog deel van my lewe is wat ek behoort dood te maak? (Kol. 3:5.) Dit wil voorkom of daar tog 'n duidelike verskil is.

Wanneer 'n spesifieke sonde waarmee ek worstel, dwingend van aard is, is die kanse redelik goed dat daar 'n demoniese mag in my is en dat dit nie net 'n stuk sondige natuur is wat bely en afgelê moet word nie. Gert, die persoon met die abnormale en dwingende seksdrange, het vir jare gebid vir volkome oorwinning oor hierdie drange. Nadat hy egter in die Naam van Jesus van daardie demoon van seks bevry is, kon hy veel makliker weerstand bied teen versoekings in hierdie area van sy lewe.

Natuurlik wil dit nie sê dat iemand wat van 'n demoniese mag bevry is, nooit weer in daardie area van sy lewe aanvalle van die duiwel gaan ervaar nie. Bevryding haal net die angel uit my daaglikse stryd teen die sonde.

Sonder vrees vir teenspraak kan ons sę dat verreweg die meeste sondes wat Christene nog doen, nie die gevolg is van 'n bose gees in hulle nie, maar omdat hulle self kies om sonde te doen en omdat hulle nie ten volle onder beheer van die Heilige Gees lewe en nie die wapenrusting ten volle opneem waarvan Paulus in Efesiërs 6 praat nie. Ons hoef dus nie te gaan soek vir 'n bose gees agter elke sonde in iemand se lewe nie. Onderskeidingsvermoë is nodig. Dit sal nie help om 'n bose gees te probeer uitdryf (wat daar nie is nie!) as dit die werke van die vlees is wat ek deur die Heilige Gees moet doodmaak (Rom 8:13) of radikale keuses is wat ek moet maak ten opsigte van sondige praktyke nie. Aan die ander kant sal dit ook nie veel baat om 'n bose gees te probeer aflê (te laat staan) nie!

Die praktyke van die sondige natuur wat nog in my oorgebly het, moet in die krag van die Heilige Gees afgelê en doodgemaak word, terwyl 'n bose gees uitgedryf moet word, en daar is beslis gevalle waar albei nodig is.

Opsommend wil ek dan sê dat ons nie behep moet raak met die duiwel en demone nie. Ons loop die gevaar om later meer oor die duiwel te praat as oor Christus. Ons mag egter aan die ander kant ook nie ons oë sluit vir die feit dat die duiwel en sy demone 'n realiteit is en dat hulle wel verantwoordelik kan wees vir siektes, gedragsprobleme en sondes in mense se lewens nie. Dus: nie 'n demoon agter elke bos nie, maar onthou dat daar bosse is waaragter jy vir seker 'n demoon gaan kry!

 

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 8

SIMPTOME VAN BESETTING DEUR

BOSE GEESTE

Mense in wie daar demoniese magte werksaam is, het kenmerkende simptome. Ek wil egter aan die begin van hierdie hoofstuk op twee dinge wys:

1. Hierdie simptome is nie altyd die werk van 'n bose mag in iemand nie. Soos reeds in 'n vorige hoofstuk aangedui is, kan hierdie simptome ook 'n fisiese oorsprong hê of dit kan sonde wees wat in Jesus se Naam oorwin moet word.

2. Die lys van simptome is geensins volledig nie. Die simptome wat hier genoem word, is simptome wat ons in ons eie bediening redelik algemeen teëgekom het en wat ook deur ander persone wat bevrydingswerk doen, gestaaf word. Uit bronne wat ek geraadpleeg het, is dit duidelik dat sendelinge wat onder heidene werk, soms ook ander simptome aantref as dié waarmee ons te doene kry.

1. LIGGAAMLIKE SIMPTOME

Veral persone wat deur toordery kwaad aangedoen is, het die volgende kenmerkende liggaamlike simptome:

        1.1 Voortdurende hoofpyne langs die slape of 'n swaar drukkende gevoel op die kop wat soms oorbeweeg na die nek. Ons praat nie hier van hoofpyne wat net soms voorkom nie, maar hoofpyne wat feitlik daagliks ervaar word sonder dat daar 'n mediese verklaring voor is of sonder dat dit aan spanning toegeskryf kan word. Johan het op 'n dag na ons gekom en vir ons die X-strale gewys wat van sy kop geneem is en wat op absoluut geen verklaring kon dui vir die geweldige hoofpyne wat hy al vir etlike maande kry nie. Nadat hy van 'n bose gees (wat deur toordery ingekom het) bevry is, het die hoofpyne onmiddellik verdwyn.

        1.2 'n "Wind" wat pynlik in die maag of selfs in ander dele van die liggaam rondbeweeg. Heel dikwels het mense die ervaring dat hierdie "wind" in die keel op beweeg soos 'n slangetjie, en hulle selfs by tye wurg.

        1.3 'n Swaar drukkende gevoel op die skouers en selfs rugpyne wat nie die gevolg van 'n besering is nie.

        1.4 'n Onverklaarbare lamheid in die bene.

        1.5 Abnormale probleme in die vrouedele. Vroue ervaar dikwels 'n voortdurende gejeuk in die vrouedele wat nie as gevolg van gewone ontsteking is nie. Die opdrag wat die demoon in geval van toordery ontvang, is om probleme in die vrouedele te veroorsaak sodat 'n normale sekslewe nie moontlik is nie. Die huwelik moet op die rotse beland. Vroue wat deur 'n jaloerse meisie getoor is, ervaar dikwels hierdie probleme. Toordery veroorsaak selfs voortdurende miskrame.

         1.6 Epileptiese aanvalle. Weer eens wil ek dit sterk beklemtoon dat alle epileptiese aanvalle nie die werk van demoniese magte is nie. In die meeste gevalle is daar ongetwyfeld 'n fisiese verklaring voor, maar hou net in gedagte dat dit wel demonies van aard kan wees.

Enkele jare gelede het 'n vrou na ons gekom en vertel van haar dogter in die hoërskool wat tot drie epileptiese aanvalle per dag kry. Soms moes die skoolhoof die kind huis toe bring. Die moeder noem toe dat syself voorheen die aanvalle gekry het. Toe haar aanvalle ophou, het die oudste seun dit begin kry en kort nadat syne opgehou het, het die dogter die aanvalle begin kry. My vrou het sommer dadelik skool toe gery en die hoof gevra of die kind vir 'n tydjie verskoon kan word aangesien ons vir haar wil gaan bid. Dit was gedurende die week toe mnr Piet Smith nog hier was. Die hoof was gewillig dat die kind sommer dadelik kon kom omdat hy nie meer raad met haar geweet het nie. Piet Smith het 'n gees van epilepsie sterk begin bestraf. Met 'n geskreeu het die dogter op die grond neergeslaan en vir 'n rukkie doodstil bly lê. Dit was waarskynlik toe dat die demoon haar verlaat het. Drie jaar daarna het ek haar eendag weer raakgeloop. Sy het sedert daardie oggend nog nooit weer 'n enkele epileptiese aanval gehad nie!

          1.7 'n Knaende moegheid en lomerigheid gedurende die dag - selfs al het die persoon 'n goeie nagrus gehad.

'n Meisie wat aan 'n onderwyskollege studeer het, het skielik op 'n dag siek geword. Een van die simptome wat sy gehad het was 'n gedurige moegheid wat veroorsaak het dat sy sommer bedags aan die slaap geraak het en gevolglik die kollege moes verlaat. Haar ouers het haar by twaalf geneeshere gehad wat fisies geen fout met haar kon vind nie. Interessant genoeg, het die laaste dokter vir hulle gesę dat hy 'n sterk vermoede het dat sy getoor is!

Sy was by ons vir 'n afspraak en dit wás toe so dat sy deur 'n jaloerse buurvrou getoor is omdat die buurvrou se kinders nie so goed presteer het soos hierdie meisie nie. Die meisie vertel toe ook dat sy baie goed kan onthou dat hierdie buurvrou haar op 'n dag by die kollege kom besoek het en vir haar 'n appel gebring het om te eet. Dieselfde aand het sy begin siek word.

            1.8 Sere wat aan die voete en bene ontstaan sonder 'n mediese rede.

Dit gebeur gewoonlik wanneer mense op toorgoed getrap het. 'n Vrou uit Namibië wat hier met vakansie was, het na ons gekom en vir ons die sere aan haar voete en bene gewys. Sy het vir vier weke in die Tygerberghospitaal gelê waar intensiewe toetse op haar uitgevoer is, maar geen mediese verklaring vir die sere kon gevind word nie. Ook sy is bevry van 'n demoniese mag wat deur toordery van haar besit geneem het. Direk na haar bevryding het die sere begin genees.

            1.9 'n Swak eetlus.

Soms sê mense vir jou dat hulle 'n gedurige gevoel van versadiging ervaar. Dit is asof die kos net nie wil afsak nie. Ons het al gevalle gehad waar mense wat na bestraffing bevry is, hope slym uitgebring het en daarna 'n normale honger ervaar het.

            1.10 Rillings deur die liggaam.

2. EMOSIONELE SIMPTOME

            2.1 Onbeheerbare woedebuie.

Ons praat hier van woedebuie waaroor mense byna geen beheer het nie, selfs nie oor die geringste dingetjie nie. Iemand het dit só gestel: "Ek weet nie hoekom nie, maar ek raak eenvoudig vir die geringste dingetjie blind van woede".

           2.2 Abnormale sterk seksdrange en dwingende gedagtes rondom seks.

Veronica het vertel dat sy sedert haar elfde jaar skielik dwingende gedagtes rondom seks begin ervaar het. Dit was soms in die nag so erg dat sy die lig moes aanskakel en 'n boek lees om net haar gedagtes tot bedaring te probeer bring. Teen hierdie tyd was sy 'n meisie van sewentien en 'n prefek in die koshuis. Sy was ook 'n pragtige Christin wat op hoërskool die Here Jesus as haar persoonlike Verlosser aangeneem het. Ek het voor haar gaan staan en gesê: "As hier in hierdie meisie enige onrein demoon is wat haar gedagtes probeer beheer, dan bestraf ek jou en beveel ek jou in die Naam van Jesus om uit hierdie meisie uit te kom". Ek het my sin nog skaars voltooi toe haar oë skielik verstar en 'n growwe stem uit haar met my praat en sê: "Ons sal nie uitkom nie. Ons is drie demone wat in hierdie meisie is en ons het ingekom tydens die episode met Anna". Ek sê toe vir hierdie demoon: "Hierdie meisie behoort nou aan Jesus en julle het geen reg om in haar te wees nie. Verlaat haar in Jesus Naam!" Die volgende oomblik het Veronica begin winde breek, slym opgebring, en daarna was sy bevry. Toe ons rustig sit, vra ek haar uit na Anna en wat daar gebeur het. Sy vertel toe die volgende: Anna was 'n maatjie van haar wat een naweek, toe sy elf jaar oud was, saam met haar plaas toe gegaan het. Daardie Vrydagaand het hulle tweetjies besluit om man-en-vrou te speel. Hulle het mekaar dan toe ook liggaamlik begin betas en sodoende mekaar se seksdrange begin opwek. "En", sê Veronica, "sedert daardie aand worstel ek met hierdie seksgedagtes, wat my al menige dae wanhopig laat voel het". As Jesus haar nie daardie dag bevry het nie, kan ons net dink watter uitwerking die besetting op haar huwelik sou gehad het.

Hier is ook weer eens 'n voorbeeld van iemand wat beset geraak het voor haar bekering en nie vanselfsprekend bevry is met haar bekering nie.

Ek is oortuig daarvan dat veral mans wat afwykende gedragspatrone op seksuele gebied openbaar en hulle skuldig maak aan verkragting en kindermolestering, nie net sielkundige behandeling nodig het nie, maar beslis ook bevryding.

         2.3 Selfmoordneigings.

               Uit die aard van die saak is mense wat in diepe depressie verval het of wat eenvoudig voel dat die lewe geen sin meer het nie, geneig tot selfmoord. Wanneer mense egter vir jou sê dat hulle werklik nie ernstige probleme het nie maar dat 'n stem voortdurend vir hulle sê: "Stap voor hierdie motor in" of "Ry van die brug af", dan kan jy begin soek vir 'n demoniese mag.

         2.4 Abnormale vrese.

             Gedurende berading moet daar probeer word om vas te stel wanneer dit begin het. Dit is moontlik dat daar tydens een of ander traumatiese ervaring 'n demoniese mag van iemand besit kon geneem het. At het gekom vir 'n afspraak. Terwyl hy nog op laerskool was, het hy een oggend, terwyl die hoof godsdiens in die saal gehou het, 'n baie eienaardige ervaring gehad. Dit het vir hom gevoel of hy begin sweef. Hy getuig dat sy lewe sedert daardie dag net nie weer dieselfde was nie. Sy skoolwerk het agteruitgegaan en hy het matriek net-net deurgekom. Gaandeweg het hy 'n onverklaarbare vrees vir mense begin ontwikkel alhoewel hy baie lief is vir mense. Hy vertel: "Wanneer ek bv. in 'n kafee by die toonbank staan om iets te koop en daar kom mense ingestap, voel ek of ek kan weghardloop en ek weet nie hoekom nie. As ek by 'n robot stilhou en ander motors begin langs my stilhou, voel ek of ek die pedaal kan intrap en net wegjaag". Ek het 'n lang gesprek met hom gehad maar ek kon nie my vinger op iets lę nie. Sy kinderjare was gelukkig en die enigste okkultiese raakpunt waarop ons afgekom het, was dat hulle op 'n stadium in sy laerskooldae in 'n huis gebly het waar dit, volgens hom, gegoël het. Ek het toe maar voor hom gaan staan en 'n demoniese mag wat daar moontlik in hom kon wees, begin bestraf. Dadelik het hy begin verstyf, gesweet en gromgeluide gemaak. Ek het aanhou bestraf en skielik het hy ontspan en net geweet dat hy volkome vry is. Ek het hom gevra om af te gaan dorp toe en in een van die besige supermarkte te gaan loop. Na 'n kwartier het hy stralend teruggekom en vertel dat hy vir die eerste keer in baie jare normaal tussen mense kon beweeg.

        2.4 Depressie.

             Alle depressiewe gevoelens is vir seker nie demonies van aard nie. Die meeste mense wat probleme op hierdie terrein het, vind baat by medikasie en/of berading maar daar is ongetwyfeld gevalle waar bevryding ook nodig is. Dit is my oortuiging dat depressie wat "die siekte van ons tyd" genoem word, nie slegs medikasie en berading as terapie moet hê nie, maar dat bevryding deel van die terapeutiese proses behoort te wees. Satan en sy bose magte sal alles in hul vermoë doen om 'n depressiewe mens nog verder depressief te maak en daarom sal die duiwel ook weerstaan, en demoniese magte sterk aangespreek moet word.

       2.5 Kompulsiewe gedrag.

            Ek het eenkeer die getuienis gehoor van twee persone wat vóór hul bekering dobbelaars was en wat na hul bekering - teen hulle sin - telkens maar weer  gaan dobbel het. Dit was asof 'n bonatuurlike mag hulle daartoe gedryf het. Hierdie kompulsiewe gedrag is eers beëindig nadat hierdie twee persone by iemand was wat bevrydingswerk doen, en hulle van demoniese magte van dobbelary bevry is.

Persone wat al staan en kyk het hoedat mense dobbel, vertel dat hulle mense asof totaal gehipnotiseerd voor daardie dobbel-masjien sien staan het; emosieloos, selfs al "spoeg" die dobbelmasjien vir hulle 'n hoop geld uit. Wanneer iets jou so volkome in sy mag het, kan dit bykans nie anders as demonies wees nie.

        2.6 Afwykende gedrag.

Die terrein van abnormale gedrag is 'n baie wye terrein en daar is 'n legio verskillende afwykende gedragspatrone. Dit is ongetwyfeld waar dat daar biologiese en psigiese verklarings vir abnormale gedrag is wat wetenskaplik gestaaf kan word, maar ook hier moet ons die invloed van die bose nie onderskat nie. 'n Sekere vrou wie se man van 'n demoniese mag bevry is, het die volgende van haar man se gedrag vóór bevryding gesê: "Ek kon my man glad nie verstaan nie. Die een oomblik was hy die lieftalligheid self en die volgende oomblik was hy twissoekerig en onbeskof. Dit is asof hy in 'n kort tydjie, sonder enige rede, 'n totale persoonlikheidsverandering ondergaan het".

3. ANDER SIMPTOME

3.1 Angsdrome.

Veral mense wat deur toordery kwaad aangedoen is, kry dikwels drome van slange wat hulle jaag of ander ongediertes wat hulle agtervolg of mense wat hulle met messe jaag.

3.2 Die tokkelossie.

As kind het ek dikwels in my mou gelag wanneer ek hoor die swartmense praat van die tokkelossie. Vandag weet ek egter dat die tokkelossie geen versinsel of bygeloof is nie, maar 'n bose gees wat werklik in die gedaante van 'n "klein swart mannetjie" aan mense verskyn. Vrouens getuig dat die tokkelossie veral snags na hulle toe kom en werklik met hulle seksueel verkeer sonder dat hulle hoegenaamd in staat is om 'n enkele geluid uit te kry of 'n vinger te verroer om dit te probeer verhoed. Die verskyning van die tokkelossie is 'n seker simptoom van toordery.

3.3 Die gedurige verskyning van dooies in drome.

3.4 Astrale projeksie.

Johanna het vertel hoedat sy, wanneer sy saans op haar bed lê, alles kon sien wat haar man gedoen het terwyl hy jare gelede grensdiens verrig het. Dit wat sy gesien het, het sy agterna met hom gekontroleer en dan het dit geblyk dat haar "waarnemings" heeltemal korrek was. Hierdie vrou is van 'n demoniese mag bevry en daarna het sy nooit weer sulke tipe ervarings gehad nie.

3.5 Stemme wat praat.

Daar is mense wat getuig hoedat 'n "stem" aan hulle duidelike opdragte gee om uit te voer. Een man wat by ons was vir 'n afspraak, het vertel hoe hy gedurig bewus was van "'n ding" by hom en hoedat hy by tye duidelik kon hoor hoedat hierdie "ding" selfs vir hom lag. Na bevryding het hy maande daarna getuig dat daardie "ding" net weg is.

3.6 Ander weer, het die ervaring dat hulle van tyd tot tyd deur "iets" op die bed vasgedruk word en dan nie in staat is om enige beweging uit te voer nie.

3.7 Probleme met Bybellees en kerkbesoek.

Wanneer probleme rondom Bybellees en kerkbywoning abnormale afmetings begin aanneem, kan 'n mens gaan soek vir 'n moontlike demoniese mag. Wanneer iemand bv. elke keer aan die slaap raak as hy in 'n diens sit of die letters "spring rond" wanneer hy die Bybel lees, dan het ons darem nie meer met 'n gewone probleem te doen nie. 'n Man in sy laat dertigerjare vertel van 'n sekere probleem wat hy begin ontwikkel het en wat al erger geword het. Een van die abnormale probleme wat hy begin ontwikkel het, was dat hy nie meer kerk toe kon gaan nie. Hy vertel: "Teen die tyd dat ek by die kerk aangekom en gaan sit het, was ek so nat gesweet dat ek in elk geval moes opstaan en huis toe gaan om droë klere te gaan aantrek. Ek is 'n Christen en ek het maar met my dominee die saak uitgepraat en aan hom verduidelik waarom dit vir my onmoontlik is om die eredienste by te woon". Ek is dankbaar om te kan sê dat Jesus ook hierdie man van 'n demoniese mag bevry het, en dat daardie probleem nie vir hom meer 'n probleem is nie.

3.8 Nare voorgevoelens/voorbodes.

Daar is mense wat presies vooraf weet as iemand in die familie gaan sterf. Sommige getuig dat hulle selfs weet wie die persoon is wat gaan sterf. Mense wat sulke voorgevoelens kry, ly daaronder en ek kan vir geen oomblik dink dat so iets van die Here kom nie. Die Here wil beslis nie hê dat Sy kinders in 'n gedurige angs moet leef voordat iemand te sterwe kom nie. Talle mense wat van 'n bose mag bevry is, was daarna ook vry van hierdie nare voorgevoelens wat hulle telkens gekry het.

3.9 Mense wat getoor is, het ook die ervaring dat iemand (wie se gesig hulle nie goed kan sien nie) hulle in hul slaap iets ingee om te drink sonder dat hulle by magte is om dit te verhoed.

3.10 Klere of beddegoed kan ook in die huis of selfs aan die wasgoeddraad op 'n onverklaarbare wyse aan die brand raak.

3.11 Liggaamlike letsels soos krapmerke kan ook op 'n onverklaarbare wyse aan iemand se liggaam verskyn.

3.12 Ander verskynsels wat dui op demoniese werkinge, is geluide en voetstappe in die huis, gordyne wat vanself beweeg of meubels wat heen en weer skuif.

4. SIMPTOME VAN MOONTLIKE BETROKKENHEID BY SATANISME

Persone wat veral met jongmense te doen kry wat by satanisme betrokke is, gee die volgende aanduidings wat kan dui op satanistiese betrokkenheid en waarop ouers behoort te let:

4.1 Beheptheid met psigiese verskynsels soos telepatie, astrale projeksie, ens;

4.2 Beheptheid met "heavy metal"-musiek;

4.3 Beheptheid met die dood, verwoesting en verminking;

4.4 Belangstelling in sataniese voorwerpe soos plakkate, messe, skedels, swart kerse, ens;

4.5 Aangetrokkenheid tot satanistiese letterkunde en boeke;

4.5 'n Morbiede belangstelling in bloed;

4.6 Besit van okkultiese juweliersware;

4.7 Begeerte om kamer swart te verf;

4.8 'n Uitermate vyandigheid teenoor die Christendom, Christus en die kerk;

4.9 Tekens van depressie en selfmoordneigings;

4.10 Vervreemding van familie en vriende en 'n geneigdheid om teen gesag te rebelleer.

Indien verskeie van hierdie simptome voorkom, kan dit 'n sterk aanduiding wees van moontlike betrokkenheid by satanisme.

 

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 9

BEVRYDING VAN BOSE MAGTE

 

1. INLEIDENDE OPMERKINGS

 

1.1 Bevryding van bose magte geskied nie deur gebruik te maak van magiese formules of deur enige ander twyfelagtige metode soos bv. om iemand te skud of die Bybel teen iemand te druk in die hoop dat 'n demoon sal uitgaan nie. Bevryding geskied in die Naam van Jesus Christus omdat Hy aan die kruis die duiwel en sy bose magte oorwin het. Al gebruik Jesus óns, is Hy die Bevryder. Wat die bevrydingsituasie betref, is daar niks meer nodig as om net 'n bose gees skerp aan te spreek en te beveel om in die Naam van Jesus die persoon te verlaat nie. Om net te bid dat 'n bose gees iemand moet verlaat, is ook nie genoeg nie. Demone moet bestraf en in Jesus se Naam beveel word om uit te gaan. Dit was Jesus en die apostels se metode en daar is geen ander metode waarvan die Bybel melding maak nie. Dit is ook nie nodig dat daar geskree moet word om iemand te bevry van 'n bose mag nie. Dit ontstel net die persoon wat kom vir bevryding. Ons gesag oor demone is nie geleë in die toonhoogte van ons stemme nie maar in ons verbondenheid met Jesus.

1.2 Die persoon wat vermoed dat hy/sy 'n probleem het wat moontlik demonies van aard kan wees, moet 'n sterk begeerte hê om bevry te word sodat hy/sy die Here beter kan dien. Mense kom dikwels vir 'n afspraak maar jy kom egter gou agter dat die persoon nie werklik gemotiveer is om die Here regtig te dien en aan Sy wil gehoorsaam te wees nie. Ek herinner my aan 'n sekere man wat 'n geweldige probleem gehad het met abnormale sterk seksdrange en as gevolg daarvan al dikwels aan sy vrou ontrou was. Uit ons gesprek het dit gou duidelik geblyk dat hy dit in 'n sekere sin geniet het om 'n mag oor ander vrouens te hê. Ek het nie eers enige bestraffing op hom gedoen nie want indien daar wel 'n demoniese mag in hom sou wees, is die kanse nie goed dat hy bevry sou word nie omdat daar nie by hom 'n desperaatheid was om van hierdie sonde van ontrouheid in sy lewe verlos te word nie. Iemand het dit so gestel:

Die Here sal ons verlos van ons vyande maar nie van ons vriende nie!

Daar is ook diegene wat net van hul kwale ontslae wil raak sonder dat daar 'n begeerte is na 'n verhouding met die Here.

In die geval van 'n kind wat deur sy ouers gebring word, soek die Here die begeerte en geloof by die ouers. Die dogter van die Griekse vrou van wie ons in Markus 7 lees, is bevry op grond van die geloof en desperaatheid van haar moeder.

1.3 Die persoon wat bevryding doen, moet in verbondenheid met Christus leef en moet weet wat sy posisie in Christus ten opsigte van die duiwel en sy bose magte is. Jesus in wie se Naam bevryding geskied, is die Hoof oor alle bose magte: Ef. 1:20-2l en Kol. 2:9-10. Die bose magte wat in mense mag wees, is reeds aan die kruis deur Jesus oorwin. En deur ons verbondenheid met Jesus het ook óns volkome gesag oor Satan en sy bose magte. Ons hoef dus nie vir demone bang te wees nie, selfs al is daar heftige reaksies wanneer ons hulle aanspreek en beveel om iemand te verlaat. Dit is ook goed om die persoon wat kom vir 'n afspraak gerus te stel dat Jesus deur Sy Gees volkome in beheer van die situasie is. Vir mense wat bang is vir 'n bevrydingsituasie, lees ek gewoonlik I Joh. 4:4 voor:

"Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is."

1.4 Dit is sterk aan te beveel dat daar in 'n span gewerk word, alhoewel dit nie 'n vereiste is nie. Dit kan van waarde wees as twee of drie persone saamwerk. Terwyl die een persoon bv. besig is met bestraffing, kan die ander intree in gebed. Dit gebeur ook soms dat my maat onthou om iets te vra wat ek miskien vergeet het. Spanwerk vrywaar 'n mens ook van hoogmoed. Die duiwel wil hê ons moet hoogmoedig raak wanneer die Here ons veral op hierdie gebied begin gebruik. Wanneer daar egter in 'n span gewerk word, dan is dit nie net ek wat dit gedoen het nie maar ons wat deur die Here gebruik is.

1.5 Bevrydingswerk behoort binne gemeenteverband gedoen te word. Dit behoort 'n integrale deel te wees van die normale gemeentewerk. Dit help nie om ons oë te sluit vir die werklikheid en te ontken dat daar lidmate in ons gemeentes is wie se probleme demonies van aard is nie. Hulle ís daar (al is hulle nie baie nie) en hulle is daarop geregtig om bedien en gehelp te word. Ek het al vir talle lidmate van ander kerke gevra: "Was jy al by jou eie leraar/pastoor met jou probleem?" en dan het die antwoord telkemale gekom: "My dominee sal my nooit glo as ek hom moet vertel wat ek ondervind nie", of "My pastoor wil niks met hierdie tipe dinge te doen hê nie want hy glo nie 'n Christen kan sulke probleme hê nie". Dit is veel makliker om bevryding op iemand te doen wat deel van die gemeente is omdat jy daardie persoon en sy omstandighede ken. Noodsaaklike opvolgwerk kan ook doeltreffend gedoen word. Dit is nie die ideale toestand om met mense van ander kerke en veral ander plekke te werk nie omdat jy daarna min of geen kontak met die betrokke persoon het nie. Dit wil natuurlik nie sê dat die Here nie so kan werk - en inderdaad so werk - nie, maar dit sou net meer effektief gewees het indien daar in elke gemeente voorgangers of gewone lidmate was wat hierdie deel van die gemeentewerk kon hanteer. Ek weet van etlike gemeentes waar lidmate skoling ontvang om bevrydingswerk te kan doen.

2. DIE BEVRYDINGSITUASIE

2.1 Vind uit wat die persoon se probleem is. Waarom het hy gekom vir 'n afspraak? Doen navraag na liggaamlike, emosionele en ander tipe probleme. Die kenmerkende liggaamlike simptome kan dui op toordery. Deur gebruik te maak van 'n vorm kan deeglike werk gedoen word. So 'n vorm kan die volgende vrae bevat:

2.1.1 Liggaamlike simptome;

2.1.2 Emosionele simptome;

2.1.3 Ander simptome;

2.1.4 Betrokkenheid by die okkulte of valse godsdienste (kry 'n lys).

2.1.5. Sondes waarmee nog nie gebreek is nie;

2.1.6 Enige moontlike vloeke wat die persoon self uitgespreek het of wat moontlik oor hom uitgespreek is;

2.2. Dit is uiters nodig om vooraf 'n diepgaande gesprek met die persoon te voer.

2.2.1 Vind uit waar die persoon geestelik staan. Iemand wat nog nie 'n definitiewe keuse vir Christus gemaak het nie, sal gewillig moet wees om dit te doen.

Natuurlik kan demone uitgedryf word voordat die betrokke persoon 'n oorgawe aan Christus gemaak het. Paulus het nie eers die meisie, van wie ons in Hand 16 lees, tot bekering gelei voordat hy haar van 'n waarseêrsgees bevry het nie. Hy het net eenvoudig die gees beveel om die meisie te verlaat en sy was vry. Meer as een prediker het al die ondervinding gehad dat 'n persoon tydens of na 'n diens op hom afstorm om hom aan te rand en selfs dood te maak. Iemand het my vertel hoedat 'n man tydens 'n diens op hom afgestorm het met 'n mes in die hand.

Die prediker het sy vinger na die persoon gewys en gesê: "Ek bestraf jou in die Naam van Christus Jesus!" Die volgende oomblik het die man met die mes voor die preekstoel neergeslaan en is hy bevry van daardie gees wat hom tot moord aangehits het. Daar is ook oorvloedige getuienisse wat bevestig dat in sendingvelde die sendelinge ook vir ongereddes bid vir genesing, en ook in sommige gevalle bevryding doen om daarmee die mag van Christus te bevestig bo die mag van die afgode en bose geeste. In sy boek, Touch the world through prayer, skryf Wesley L. Duewel op bl. 115 van die volgende geval. 'n Groepie nuwe gelowiges in Indië was eenkeer besig om saam te bid toe 'n Hindoe-buurman hulle hoor sing en besluit om soontoe te kom. Hy vertel hulle toe van besoekers uit 'n naburige dorpie wat 'n vrou saamgebring het wat van demone besete is en of hulle nie miskien kan help nie. Dadelik het die Christene gesê: "Bring haar in want ons Jesus kan demone uitdryf". Die vrou is na hulle gebring en in Jesus se Naam het hierdie groepie gelowiges, sonder 'n leraar of pastoor in hulle midde, hierdie vrou bevry en die groepie Hindoes is weer terug. Ongeveer 'n maand later kom daar 'n boodskapper uit hierdie Hindoe-dorpie met die versoek dat die Christene tog soontoe moet kom om lering te gee. Die rede wat hulle aangevoer het, was: "Ons het nog nooit van 'n God gehoor wat soveel krag het nie".

Dit wil egter vir my lyk - en dit is my persoonlike opinie - of die Here meer verwag van mense wat reeds die kennis van die waarheid het. Mense wat weet van Jesus, en mense wat die weg tot saligheid ken en nie 'n verskoning het nie, sal eers 'n oorgawe moet maak as hulle vry wil kom van moontlike demoniese besetting. In gevalle waar bevryding voor bekering plaasvind, sal die betrokke persoon net moet weet dat daardie bose gees terug kan kom indien daar nie 'n volkome oorgawe aan Christus plaasvind nie.

2.2.2 Maak ook seker of die persoon wat kom vir 'n afspraak nie betrokke was by okkultiese praktyke nie. Indien wel, moet dit aan die Here bely, en radikaal daarmee gebreek word. Doen ook navraag of die persoon nie bewus is van okkultiese praktyke waarby voorgeslagte moontlik betrokke was nie. Indien die persoon by 'n toordokter, Slamaier of Sangoma was, moet daar seker gemaak word of daar nie nog medisyne, poeier of ander voorwerpe in die persoon se besit is nie, want daardeur kan die duiwel 'n geweldige houvas op iemand hê. Dit is nodig dat die persoon alles wat hy van 'n toordokter ontvang het en wat nog in sy besit is, sal verbrand of weggooi. Alle okkultiese voorwerpe sal ook vernietig moet word. Demone is outoriteite op die gebied van die reg en hulle weet baie goed as hulle nog een of ander reg het om in iemand se lewe te wees.

2.2.3 Maak seker of daar nie ook nog ander sondes in die persoon se lewe is waarmee nog nie radikaal gebreek is nie. Ons doen nie meer bevryding op mense wat bv. nog aan rook verslaaf is nie omdat die praktyk baie duidelik getoon het dat enige vorm van verslawing 'n houvas kan wees wat Satan op mense het. Ek herinner my aan die geval van 'n meisie in haar twintigerjare wat vir 'n afspraak gekom het en wat al die simptome van toordery gehad het. Sy het self ook gesê dat sy 'n sterk vermoede het wie haar kwaad aangedoen het. Ek het bestraf en alhoewel daar geweldige manifestasies was, wou die demoon nie die liggaam verlaat nie. Ek vra haar toe of daar nie nog onbelyde sonde in haar lewe is, of sondes waarmee sy nog nie gebreek het nie. Sy erken toe dat sy aan rook verslaaf is. Ek het dit baie duidelik aan haar gestel dat sy 'n keuse het. Ek gaan die vertrek verlaat en sy moet besluit of sy gaan ophou of nie omdat hierdie verslawing moontlik tussen haar en bevryding kan staan. Toe ek na 'n rukkie terugkom sê sy vir my met trane in haar oë dat, alhoewel dit 'n baie moeilike besluit was, sy besluit het om haar rook as sonde te bely en te laat staan. Nadat sy dit gedoen het, het ek weer bestraf en binne sekondes het die demoon haar liggaam verlaat en is sy bevry.

Doen ook navraag na die persoon se menseverhoudinge - of daar bv. nie verkeerde gesindhede tussen hom en ander bestaan waarvoor hy deels verantwoordelik is nie.

2.2.4 Doen ook navraag na emosionele wonde uit die verlede. Veral indien die persoon probleme op seksuele gebied ondervind, is dit noodsaaklik om navraag te doen na onaangename gebeurtenisse bv. molestering, verkragting, ens. Deur navraag te doen kom jy soms op moontlik "oop deure" af waardeur demone in die persoon kon inkom. Dit is nie altyd nodig om te weet hoe demone ingekom het nie, maar dit kan tog tot hulp wees.

Sonder twyfel is daar gevalle waar innerlike genesing (heelwording van emosionele wonde) bevryding moet voorafgaan. Dit help nie om iemand te bevry van moontlike demoniese magte as daar diep emosionele wonde uit veral die kinderjare is waarmee nie effektief gehandel word nie. Jesus wil die hele mens genees. (Sien hfst. 12.)

2.3 Voordat ons by die deel kom waar bestraffing behandel word, kan ons net opsommenderwyse sê wat gedoen behoort te word tydens die gesprek vooraf:

OPSOMMEND VOOR BESTRAFFING PLAASVIND:

1. Doen navraag na die persoon se probleem. Waarom het hy gekom vir 'n afspraak? Watter simptome is aanwesig?

2. Doen navraag na geloofsekerheid.

3. Doen navraag na okkultiese betrokkenheid. Dit moet bely word, en goed wat van 'n toordokter verkry is moet verbrand of weggegooi word. Okkultiese voorwerpe sal vernietig moet word. In geval van jongmense, moet navraag na pornografiese leesstof, video's, verkeerde musiek en satanistiese voorwerpe ook gedoen word sodat hulle daarvan ontslae kan raak.

4. Laat die persoon hom ook distansieer van voorgeslagte se okkultiese praktyke, bv.: "Indien my voorgeslagte met die okkulte, toordery of vervloekings te doen gehad het, wil ek daarmee niks te doen hê nie. As die duiwel 'n moontlik reg oor my lewe hierdeur verkry het, verbreek ek daardie reg in Jesus se Naam".

5. Maak seker of daar met alle sondes gebreek is en hoe die persoon se menseverhoudinge is. Is daar nie kwaaivriendskappe of onvergewensgesindheid nie?

6. Doen navraag na moontlike vloeke. Indien van toepassing kan die volgende gebed gebid word: "Here Jesus, omdat ek aan U behoort, het ek nie nodig om gebuk te gaan onder die vloeke van mense nie. Ek vra U om die moontlike houvas van Satan te verbreek wat hy oor my kon verkry het deur daardie vloek wat X oor my (en my nageslag) uitgespreek het".

(Ek is deeglik bewus daarvan dat kritiek ingebring kan word teen die siening dat veral okkultiese sondes waarby voorgeslagte betrokke was, enige reg of houvas op die nageslag kan hê. Daar is twee uiteenlopende sieninge oor hierdie saak. My eie standpunt is dat dit absoluut niks kos om my as Christen mondelings te distansieer van praktyke wat demonies van aard was en deur my voorgeslagte beoefen is nie. Dit is onnodig om in teologiese argumente te verval oor so 'n saak. Die Here verstaan immers ons harte en dit is wat saakmaak.)

2.4 Daar kan nou begin word om te bestraf.

Gewoonlik laat ek die persoon voor my staan en begin dan om enige moontlike demoniese magte te bestraf wat aanwesig mag wees.

2.4.1 Begin om moontlike demone van oorerwing te bestraf.

2.4.2 Bestraf hierna demone wat kon inkom deur moontlike vervloekings.

2.4.3 Bestraf vervolgens demone op grond van hul aard, bv. "As hier 'n demoon van seks(of woede, vrees, ens.)is, dan bestraf ek jou in Jesus se Naam en gebied ek jou om hierdie liggaam te verlaat". Moenie slegs eenkeer bestraf en ophou as daar niks gebeur nie. Hou maar so 'n bietjie aan met die bestraffing omdat demone nie altyd dadelik reageer nie.

2.4.4 In 'n geval waar toordery vermoed word, moet demone van toordery bestraf word.

2.4.5 Wanneer die persoon met die okkulte deurmekaar was, moet demone wat daardeur kon inkom, bestraf word, bv: "As hier enige demone is wat ingekom het deur satanisme, waarsêery of karate, dan bestraf ek julle in die Naam van Jesus en gebied ek julle om die liggaam te verlaat".

2.5 Indien daar wel 'n bose gees in die persoon is, kan daar gedurende bestraffing 'n hele paar dinge gebeur:

2.5.1 Die persoon kan in 'n beswyming ("trance") verval.

(Dit het absoluut niks te doen met "slain in the spirit" nie!) Die demoon neem in so 'n geval beheer oor die brein van die persoon. Die persoon self weet van niks en jy is in direkte kontak met die demoon. In so 'n geval vra ek gewoonlik aan die demoon wat sy naam is of hoe hy ingekom het. Dit is asof 'n bose gees se houvas gebreek is die oomblik dat jy sy naam/aard ken. Alle demone praat egter nie - selfs nie al is die persoon in 'n toestand van beswyming nie. In so 'n geval hou ek net aan om hom te beveel om die persoon te verlaat.

2.5.2 Die persoon kan in 'n halwe beswyming ("semi-trance") gaan.

Dit beteken dat die demoon deur die persoon begin praat terwyl die persoon alles vaagweg hoor maar geen beheer daaroor het nie. So iemand sal ook agterna vir jou sê: "Ek het alles gehoor wat gesê is maar ek het geen beheer daaroor gehad nie".

2.5.3 Ander reaksies wat met bestraffing kan plaasvind, is die volgende:

Ore wat toeslaan;

Bene wat skielik lam raak;

Die kop wat duiselig word;

Die lyf wat heen en weer begin wieg;

Ledemate wat onbedaarlik aan die ruk gaan;

Iets wat die persoon begin wurg;

Sweet wat skielik begin uitslaan;

Aanhoudende gape.

('n Kollega vertel dat hy eenkeer met 'n meisie wat by satanisme betrokke was, 'n afspraak gehad het. Hy het begin bestraf en vir twee ure lank het sy op die grond gelê en die een gaap na die ander gegee voordat sy bevry is.)

In uitsonderlike gevalle kan die persoon op die vloer neerslaan en soos 'n slang begin seil.

Indien enige van hierdie manifestasies plaasvind, weet jy in elk geval dat daar demoniese magte aanwesig is.

2.6 Hoe verlaat demone die liggaam? Op een van baie maniere:

2.6.1 Met 'n geskreeu;

2.6.2 Deur die breek van winde (wat lank kan aanhou);

2.6.3 Deur die uitbring van (hope!) slym;

2.6.4 'n Skielike hoesbui;

2.6.5 'n Liggaamsdeel wat begin ruk en skielik bedaar;

2.6.6 Die slaak van 'n diep sug of 'n aanhoudende gegaap;

2.6.7 Soms vind geen uiterlike manifestasie plaas nie. Die persoon ervaar net skielik 'n geweldige verligting.

2.7 Indien 'n demoon op enige van bg. maniere die liggaam verlaat het, moet jy aan die persoon vra of hy nog enigiets abnormaals in sy liggaam ervaar. Die persoon mag sę dat hy bv. nog duiselig voel of naar of baie moeg is. In daardie geval weet jy dat die persoon nog nie heeltemal vry is nie. Hou dan aan met bestraffing. Iemand wat volkome bevry is, voel gewoonlik baie goed.

Soms is daar wel manifestasies wat met bestraffing plaasvind, maar die demoon wil nie die liggaam verlaat nie. Soms sê die demoon ook vir jou: "Ek sal nie uitgaan nie". Wanneer dit gebeur, mag dit nodig wees om weer met die persoon in gesprek te tree om seker te maak dat daar nie nog êrens 'n houvas is wat aan hierdie demoon die reg gee om in die liggaam te bly nie. In 'n sekere gemeente waar ons eenkeer vir 'n paar dae was, het 'n vrou een oggend vir 'n afspraak gekom. Ek was feitlik honderd persent seker dat sy getoor is omdat sy al die kenmerkende simptome van toordery gehad het. Ek het op haar begin bestraf. Al wat gebeur het, was dat haar kop vreeslik duiselig geword het, maar niks het verder gebeur nie. Nadat ons 'n rukkie aangehou het, het ek die sterk gevoel gekry dat daar êrens 'n houvas was. Ek vra haar toe of daar by haar huis niks meer was wat sy by 'n toordokter gekry het nie. Hierop het sy geantwoord dat daar slegs 'n vulpen was wat sy per pos by 'n Indiër in Durban vir haar dogter bestel het. As haar dogter daardie vulpen gebruik, sou sy - so het die advertensie gelui - al haar eksamens deurkom. Ek het haar gevra om huis toe te gaan, die pen weg te gooi en die middag weer terug te kom. Die middag het sy weer opgedaag. Die oomblik toe ek begin bestraf, het die vrou op die vloer neergeslaan en sonder dat ek enige vrae gestel het, het die demoon self begin praat deur te sê wie die persoon is wat die vrou getoor het en wat die rede was. Daarna het hy haar onmiddellik verlaat en was sy vry!

Dikwels help dit om vir mense te vra om 'n dag te gaan vas en bid wanneer daar manifestasies tydens bestraffing plaasvind, maar daar skyn geen vordering te wees nie. Die doel van vas en bid is deeglike selfondersoek. Ek glo voorts dat demone wat daar moontlik in iemand mag wees, se houvas verswak wanneer so 'n persoon werklik 'n dag of wat intiem met die Here verkeer. Die rol van gebed in bevrydingswerk kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Gebed is ons magtigste wapen teen Satan en sy demone. Persone wat bevrydingswerk doen, sal self gewillig moet wees om baie tyd aan gebed af te staan, veral wanneer ons met gevalle te doen kry waar daar nie vordering skyn te wees nie. Persone wat bevrydingswerk doen, behoort ook ander Christene te vra om gereeld vir hulle te bid.

2.8 In 'n bevrydingsituasie het ons agtergekom dat dit nogal van waarde kan wees indien die persoon wat gekom het vir bevryding, self die demoon skerp aanspreek en beveel om sy liggaam te verlaat. Bv. "Jou bose mag, ek wil jou nie in my liggaam hê nie en in Jesus se Naam beveel ek jou om my liggaam onmiddellik te verlaat".

2.9 Bevryding kan soms 'n proses wees wat in iemand se lewe plaasvind.

Ek weet dat Jesus met 'n enkele woord demone beveel het om iemand se liggaam te verlaat en dat dit dan inderdaad ook gebeur het. Mense wat bevrydingswerk doen, getuig egter feitlik deur die bank dat dit dikwels nodig is om met sekere persone oor 'n langer tydperk besig te wees. Dit hang ook saam met die graad van besetting, in terme van die hoeveelheid demone in die persoon. Wanneer daar 'n hewige besetting is, is meer as een afspraak gewoonlik nodig. In baie gevalle moet die persoon ook geestelik opgebou word om sy bevryding te behou. Soos daar in gewone berading mense is met wie daar 'n langer pad geloop moet word, is dit hier ook van toepassing. Veral mense wat uit huise kom waar die omstandighede haglik is, vind dit dikwels moeilik om vry te bly. Hoe meer geestelike groei daar egter met verloop van tyd plaasvind, hoe makliker gaan dit ook om bevry te word en bevry te bly.

2.10 Moet nooit vir mense sê dat hulle nou heeltemal vry is nie. Soms word daar na 'n bevrydingsessie aan iemand gesê: "Glo net dat jy nou vry is". Geloof sal ongelukkig niks help indien daar nog 'n demoon agtergebly het nie. Die tyd alleen sal leer of daar volkome bevryding plaasgevind het of nie.

2.11 Daar is enkele moenies wat ek net hier wil aanstip:

2.11.1 Moenie gesprekke met demone voer nie. Dit is genoeg om sy naam te kry en uit te vind hoe hy ingekom het, maar dit is uiters gevaarlik om uit nuuskierigheid onnodige vrae te begin vra. Jesus het dit nie gedoen nie en ons moenie in die versoeking beland om "interessante inligting" op hierdie manier te probeer bekom nie.

2.11.2 Moenie demone na die onderwêreld (onderaardse diepte) stuur wanneer jy hulle beveel om iemand te verlaat nie. Daar is geen skriftuurlike gronde daarvoor om dit te doen nie. Al het die demone in die besetene van Gerasa (Luk 8:31) Jesus versoek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie, het Jesus dit in elk geval by geen enkele geleentheid gedoen nie, maar demone slegs beveel om uit die persoon te gaan.

2.11.3 Moenie demone beledig of vervloek nie.

Judas vs 9 is hier van toepassing. Judas praat hier van die dwaalleraars wat volgens vs 8 hemelwesens beledig en dan sê hy in vs 9:

"Nie eers die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: Die Here sal jou straf."

 

2.12 Daar is mense wat kom vir 'n afspraak omdat hulle vermoed dat hulle kwale of probleme demonies van aard is, terwyl dit glad nie die geval is nie. Dit kos in elk geval niks om, nadat die gesprek afgehandel is, te bestraf en seker te maak nie. Indien daar dan tydens bestraffing geen manifestasie plaasvind nie, het die persoon egter die gerusstelling dat sy probleem nie demonies van aard is nie.

 

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 10

EN WAT VAN KINDERS?

 

Uit die Skrif leer ons dat demone reeds gedurende die kinderjare van mense besit kan neem. In albei gevalle wat vir ons in die Bybel opgeteken is, het Jesus geloof by die ouers gesoek en het Hy die kinders bevry op grond van die ouers se geloof.

Wanneer jong kinders simptome van moontlike besetting openbaar, kan dit nogal problematies wees omdat 'n mens nie by hulle 'n vrees wil laat ontwikkel ten opsigte van die duiwel en demone nie. Ook hier sal 'n woord van waarskuwing nie onvanpas wees nie: Pasop om nie agter elke gedragsprobleem by kinders te gaan soek vir 'n bose gees nie.

Alhoewel ons baie min praktiese kennis in verband met kinders op hierdie terrein het, wil ek graag die volgende twee voorbeelde noem waarin aangedui word hoedat daar gehandel kan word in die geval van kinders:

1. Op 'n dag het 'n ouerpaar met hulle vierjarige seuntjie na my gekom. 'n Paar maande vantevore het hierdie seuntjie skielik epileptiese aanvalle begin kry. Hulle is na 'n toordokter wat hulle meegedeel het dat sommige van die ander plaasarbeiders afgunstig is op die man omdat hy die voorman is en ook die vrylike gebruik van die bakkie het. Volgens die toordokter het van die ander plaasarbeiders toe hierdie seuntjie laat toor. Ek het met die ouers gesels en hulle daarop gewys dat hulle verkeerd gehandel het deur raad te gaan vra by 'n toordokter. Daarna het ek hulle uitgevra na hul eie verhouding met die Here Jesus. Albei het 'n ware oorgawe aan die Here gemaak. Terwyl ek met die ouers besig was, het die seuntjie op die bank aan die slaap geraak. Ek het langs hom gaan sit en in 'n sagte stem min of meer die volgende gesê: "As hier enige demoniese mag in hierdie kind is wat ingekom het deur toordery en wat hom epileptiese aanvalle gee, dan bestraf ek jou in die Naam van Jesus op grond van die feit dat sy ouers nou in die Here glo en ek gebied jou om uit hom uit te gaan". Net dit. Die seuntjie het nie wakker geword nie en daar was geen uiterlike manifestasie nie, maar sedert daardie dag het hy nooit weer epileptiese aanvalle gekry nie. Ek weet dat die Here die seuntjie bevry het op grond van die geloof van die ouers.

2. 'n Kollega wat ook bevrydingswerk doen, vertel die volgende: Een van die vrouelidmate in die gemeente wat kort tevore van haar man geskei is, het na hom gekom omdat haar vyfjarige dogtertjie sedert die egskeiding abnormale gedragspatrone ontwikkel het. Sy het rusteloos en hiperaktief geword en ander maatjies só afgeknou dat sy uit twee kleuterskole gesit is en toe reeds in die derde was, en dit alles binne twee maande. Dit is natuurlik te verstane dat hierdie dogtertjie geweldig ontwrig was as gevolg van die ouers se egskeiding. Die leraar sê toe vir die moeder om daardie aand, terwyl die dogtertjie slaap, by haar bedjie te gaan staan en enige demoniese magte te bestraf wat verantwoordelik kon wees vir haar abnormale gedrag. Die moeder het dit gaan doen. Sy het min of meer die volgende gesê: "In Jesus Naam bestraf ek enige bose mag wat hierdie kind van my aanval en ek gebied jou om my kind te verlaat". Sy vertel dat die dogtertjie se liggaampie skielik saamgetrek het en toe geleidelik ontspan het. Die volgende oggend - en sedertdien - was daardie dogtertjie weer haar ou self: rustig en lieftallig!

Wanneer kinders ouer is, kan 'n mens met hulle 'n gesprek voer. Maak seker of hulle die Here Jesus reeds aangeneem het en verduidelik dan vir hulle dat hulle nie vir die duiwel hoef bang te wees as hulle Jesus in hulle hartjies het nie. Sê dan ook vir hulle dat hulle nie hoef bang te wees wanneer jy met die duiwel gaan praat nie. Bestraf dan in 'n gewone stem, sonder om selfs hard te praat. 'n Bevrydingsituasie moenie vir 'n kind vreesaanjaend wees nie. Dit is wat die duiwel in elk geval sal wil hê. Hanteer die hele situasie so kalm en natuurlik as moontlik.

 

Terug na Indeks

 

HOOFSTUK 11

HOE OM VRY TE BLY

 

Dit is makliker om bevry te word as om vry te bly.

Nie almal wat bevry word, behou hulle bevryding nie.

Die rede hiervoor is dat demone wat uit mense gaan, baie graag weer wil terugkom. In hierdie verband sê Jesus self die volgende in Matt. 12:43-45:

"Wanneer 'n bose gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het. Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hyself en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag."

Wat Jesus hier leer, het ons ook telkens in die praktyk teëgekom. Dit wil vir my lyk of demone wat uit mense gegaan het, ten minste vir 'n tyd lank probeer om weer terug te kom na die liggaam waaruit hulle gedryf is.

Demone wat uitgegaan het, kan egter nie na willekeur terugkom nie. Hulle kan nie terugkom indien die persoon uit wie hulle uitgegaan het, die huis van sy lewe vul met die Here Jesus nie!

Iemand uit wie demone uitgegaan het, moet egter weet dat hy/sy moeite moet doen om geestelik te groei en sodoende die "deure toe te hou", sodat demone wat uit is, nie kan terugkom nie.

Ek wil graag enkele dinge noem wat gedoen kan word om bevryding te behou:

1. Maak baie erns met die Woord en gebed.

Doen Bybelstudie. Doen dit in jou binnekamer, maar skakel ook by 'n groep in. Daar is niks wat die plek van die Woord in 'n Christen se lewe kan inneem nie. Deur die Woord te lees en te oordink, gee 'n mens die Heilige Gees geleentheid om jou innerlik sterk te maak en te verander. Dit is ook nie sonder rede dat Paulus die Woord die swaard van die Gees (Ef 6:17) noem nie. Wanneer ek die Woord ken en bepeins sodat dit my gedagtes vul, sal ek verbaas staan oor die uitwerking daarvan in my geestelike lewe en ek sal ook in staat wees om, soos Jesus, die duiwel te weerstaan deur vir hom uit die Woord aan te haal.

Behalwe om alleen met die Here in gebed te verkeer, is dit soms ook nodig om vir jou iemand as gebedsmaat te kry. 'n Persoon wat van demoniese magte bevry is, behoort vir 'n tyd lank gereeld met iemand saam te bid, sodat daar saam weerstand gebied kan word teen Satan en sy bose magte.

2. Word aktief betrokke by die werksaamhede van jou gemeente. 'n Passiewe lidmaat is 'n maklike prooi van Satan. 'n Lidmaat wat werklik meeleef en beskikbaar vir die Here is, beveilig as't ware sy eie geestelike lewe teen die aanslae van die duiwel.

3. Maak werk met sonde in jou lewe.

Die ondervinding het geleer dat sondes wat nie bely is nie, en sondes waarmee daar nie radikaal gebreek word nie, 'n oop deur is vir demone om terug te kom na mense toe. Bely dadelik sondes teenoor die Here maar ook teenoor mense. Vra om verskoning indien jy bv. deur 'n woord of gesindheid iemand seergemaak en benadeel het.

4. Gee aan die duiwel geen plek nie.

Ons gedagtes is die terrein waar Satan sy aanvalle op ons loods. Daarom moet ons alle leesstof, TV-programme, musiek, plekke en vriende vermy waardeur die duiwel sy voet in die deur van ons gedagtewêreld kan inkry. Maak deur 'n positiewe wilsbesluit ook 'n einde aan negatiewe gedagtes.

Daar mag tye wees wanneer ons die duiwel hardop moet weerstaan deur met hom te praat soos Jesus in die woestyn gedoen het. Vir baie Christene is dit 'n vreemde ervaring om met die duiwel te praat. Sê bv.aan hom: "Satan, jy is besig om my met negatiewe en vuil gedagtes te voer. Ek bestraf jou bose werke in my in Jesus se Naam en ek gebied jou om my gedagtes te los".

5. Beoefen lofprysing.

Daar is min dinge wat 'n mens nader aan die Here bring as wanneer jy Hom deur sang loof en prys, of sommer net heerlik saamsing as jy na geestelike musiek luister. Lofprysing is nie alleen 'n manier om die Here te aanbid en om uiting te gee aan jou liefde en dankbaarheid teenoor die Here nie, maar dit is ook 'n magtige wapen waarmee die duiwel weerstaan en verslaan kan word! Daar is min dinge wat die duiwel so op die vlug laat slaan as 'n Christen wat baie lofprysing beoefen. Kom in die gewoonte om die Here te loof en te prys. Kol.3:16 en I Tess. 5: 16 en 18. Uit 2 Kronieke 20 blyk dit dat koning Josafat waarskynlik die enigste koning was wat letterlik 'n oorlog gewen het deur lofprysing in plaas van met wapens.

6. Indien jy egter 'n tyd na jou bevryding agterkom dat jy weer dieselfde probleme ervaar as voor jou bevryding, behoort jy terug te gaan na die persoon by wie jy vir die afspraak was.

 

Terug na Indeks

 

 

HOOFSTUK 12

GENESING VAN INNERLIKE WONDE

 

Enkele inleidende opmerkings

1. Daar loop baie stukkende en ontwrigte mense rond. Mense wat deur ander se toedoen emosionele wonde het. Die resultaat van innerlike verwonding is 'n lae of swak selfbeeld. Laasgenoemde dui daarop dat ek nie van myself hou nie; ek voel minderwaardig; ek beleef verwerping en ek het die ervaring dat ek ook vir God nie goed genoeg is nie.

2. In die meeste gevalle is ouers verantwoordelik vir hierdie wortelskade - veral as gevolg van 'n gebrek aan gesonde liefde. Hieronder word die volgende verstaan:

2.1 Te min liefde. Daar is mense wat nie kan onthou of Pa of Ma hulle ooit kleintyd op hulle skoot getel of vasgehou en vir hulle gesê het, "Ek is lief vir jou" nie. Elke mens het 'n behoefte aan waardering en aanmoediging en waar dit ontbreek en deur afbrekende kritiek vervang word, laat dit blywende letsels agter.

2.2 Skewe liefde. Ouers kan 'n kind ook totaal oorbeskerm en/of sonder dissipline grootmaak. So 'n kind sal dan in sy latere lewe min selfvertroue hê omdat alles vir hom gedoen is, of hy sal 'n selfsugtige mens word omdat hy altyd gekry het wat hy wou hê en kon doen wat hy wou.

Uit ondersoeke blyk dit dat die meeste skade aangerig word vanaf geboorte tot en met 'n kind se twaalfde lewensjaar.

Benewens ons ouers kon onderwysers, maats, familie of ander mense ook duike in ons binneste wêreld veroorsaak het - veral toe ons voor ander verneder, op 'n vroeë ouderdom geterg is of seksueel gemolesteer is.

3. Innerlike skade ('n swak selfbeeld) beïnvloed die drie verhoudinge waarin elke mens staan:

my verhouding met myself;

my verhouding met my medemens;

my verhouding met God.

4. Diep emosionele wonde waarmee nie effektief gehandel word nie, lei gewoonlik tot sonde. Hierdie wonde kan beskou word as die invalspoorte waardeur Satan 'n houvas op 'n mens se lewe verkry.'n Sekere meisie wat as kind seksueel deur haar oom gemolesteer is, het verval in 'n lewe van prostitusie en dwelmverslawing. As prostituut het sy een aand 'n "minnaar" vermoor omdat hy 'n aanmerking oor haar gemaak het wat haar sterk herinner het aan haar oom wat haar as tienjarige meisietjie gemolesteer het.

Hoe heler 'n mens hierbinne is, hoe skraler is die kanse dat Satan 'n houvas op jou kan verkry en jou kan laat sondig.

5. Dit is nie nodig om vir die res van jou lewe met hierdie innerlike wonde saam te leef nie. Op grond van Jesaja 53 is genesing van hierdie wonde moontlik!

"Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra...Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom" Jesaja 53: 4-5.

Die kruisdood van Jesus was vir my sonde, siekte en smarte (innerlike wonde). Daar is dus nie 'n enkele deel van my lewe wat my affekteer - hetsy sonde, smarte, skande, leed, gebreke of enige ander gevolge van die sonde - wat Jesus nie in my plek gedra het nie. Die kruisdood van Jesus is die fondament waarop God 'n heelmaakproses in my lewe kan en wil doen.

Mense met innerlike pyn is geneig om mure rondom hulleself te bou. In elke mens is daar 'n ingeboude weerstand teen verandering. Jy weet dat 'n sekere gedragspatroon skadelik en verkeerd is, maar dit is asof jy op 'n vreemde manier "veilig" voel binne hierdie tipe gedragspatroon. Jy het egter 'n keuse! Jy kan kies om met hierdie wonde en verkeerde gedragspatrone vir die res van jou lewe saam te leef terwyl jy ander blameer vir wie en wat jy is. Andersyds kan jy doelbewus kies om volle verantwoordelikheid vir jou eie lewe te aanvaar en werk te maak van hierdie negatiewe emosies wat jou selfbeeld en verhoudinge met God en ander mense skade berokken. Dit is nie nodig om jou lewe lank gebonde te wees in jou gees nie. Die enigste manier om werklik vry te kom, is om die ware toedrag van sake in my eie lewe te erken en 'n kwaliteit-besluit te neem om te wil verander.

HOE INNERLIKE WONDE GENEES KAN WORD

1. Gee geleentheid vir die persoon om te gesels oor sy lewe.

Vra uit na sy/haar kinderjare. Doen navraag na die verhouding wat daar tussen ouers en kind bestaan het. Het die ouers gesonde liefde bewys of was daar 'n gebrek aan ouerlike sekuriteit en gedurige afbrekende kritiek? Was ouers nie te oorbeskermend nie? Dit is belangrik dat onaangename en onderdrukte emosies na die oppervlakte gebring word.

2. Die persoon moet gelei word om volkome te kan vergewe.

Daar kan nie ware en blywende heelwording intree sonder om diegene volkome te vergewe wat vir my verwondings verantwoordelik was nie. Mense wat seergemaak is, is geneig om bitterheid om te dra teenoor diegene wat vir die emosionele pyn in hul lewens verantwoordelik was. Help die persoon om in te sien dat onvergewensgesindheid in die pad van genesing kan staan. Vergifnis is 'n besluit wat ek neem, maar ook 'n proses wat ek moet deurwerk in my lewe. Ek moet besluit om te vergewe en die Here vra om deur Sy Gees my gevoelens teenoor daardie persone wat my verwond het, te verander. Tekste soos Matt. 6:14-15 en Hebreërs 12:15 het hierop betrekking.

3. Sondige gedragspatrone moet bely word.

Indien die persoon se wonde hom laat sondig het, moet dit aan die Here bely word. Ons mag nie volstaan deur ander die skuld te gee vir ons verkeerde en sondige gedrag nie. Elkeen van ons moet volle verantwoordelikheid vir ons gedrag aanvaar. Sê bv. vir die Here: "Ek wil nie meer in woede reageer elke keer as ek bedreig word nie. Ek bely daarom hierdie onnodige woedeuitbarstings as sonde voor U. Vergewe my daarvoor in die Naam van Jesus".

4. Bid saam met die persoon vir genesing.

Onthou dat innerlike genesing ten diepste 'n werk van die Heilige Gees is. Dit is die Heilige Gees wat die genesingswerk wat Jesus aan die kruis gedoen het, kan toepas in die stukkende gemoed van 'n mens.

Die onderstaande gebed is slegs bedoel as riglyn en kan deur die persoon self gebid word. Die gebed kan aangepas word volgens die persoon se eie belewenis van die gebeurtenisse en jarelange beïnvloeding wat gelei het tot die emosionele wonde wat hy ervaar en die gevolglike verkeerde gedragspatrone wat daaruit spruit:

Gebed om genesing van innerlike wonde

"Here, nog voordat ek gebore is, het U my al geken. U het immers aan Jeremia gesê dat U hom al geken het nog voordat U hom in sy moeder se skoot gevorm het. Dankie dat U my ook ken en alles van my weet. U sien dwarsdeur my. My hele lewe lê oop en bloot voor U. Daar het in my verlede niks gebeur waarvan U nie kennis dra nie. U weet van elke invloed wat een of ander negatiewe effek op my lewe gehad het.

Daar is wonde wat ek uit my verlede met my saamdra. Ek weet dit het U bedroef dat mense my bewustelik of onbewustelik seergemaak het.

Ek verstaan nie aldag waarom hierdie dinge met my gebeur het nie, maar ek weet dat dit nie U volmaakte wil vir my lewe was nie.

Ek voel verwerp;

Ek voel minderwaardig;

Ek voel eensaam;

Ek voel so onseker van myself;

Ek kry maklik seer;

Ek openbaar sekere gedragspatrone wat ek self nie aldag verstaan nie;

Ek het 'n onnatuurlike begeerte om altyd myself te wil bewys;

Ek wil so graag hê mense moet goed van my praat;

Ek het 'n onvermoë om spontaan met mense te kommunikeer;

Ek worstel om U as 'n goeie en versorgende Vader te ervaar.

U weet waar die wortels van hierdie tipe gedrag en reaksiepatrone in my lewe vandaan kom. Ek wil U vra om saam met my te stap deur my verlede. Herinner my deur U Gees aan onaangename insidente wat plaasgevind het en wat belemmerend op my lewe ingewerk het. Dankie dat ek U kan vra om hierdie wonde te genees omdat U reeds aan die kruis ook die pyn van my wonde gedra het. Dankie ook vir die Heilige Gees wat hierdie genesing wil uitwerk in my lewe.

4.1 Here, U die alwetende God, U weet wat daar voor, tydens en na my geboorte met my gebeur het.

Miskien was ek 'n ongewenste baba;

miskien was daar een of ander trauma tydens geboorte;

miskien het ek nie direk na my geboorte veilig gevoel en Mamma se geborgenheid ervaar nie.

As daar enigiets negatiefs rondom my geboorte gebeur het wat 'n nadelige uitwerking op my latere persoonlikheidsontwikkeling gehad het, wil ek U vra om die uitwerking daarvan op my gemoedslewe uit te kanselleer.

4.2 Ek bring my kinderjare voor U. U weet dat ek dikwels die ervaring gehad het dat Pappa en Mamma my nie regtig wou hê nie. Ek het so bitter min liefde van hulle ontvang. Ek kan skaars onthou dat een van hulle my ooit op hulle skoot getel het, my teen hulle vasgedruk het en my van hulle liefde verseker het. Wat ek wel kan onthou, is hoe hulle my dikwels gekritiseer het. Niks wat ek gedoen het, was ooit reg of goed genoeg nie. Baie dae het ek so verlang na 'n bietjie aanmoediging en waardering van hulle kant af.

Wat ek ook nog goed kan onthou, is die kere dat ek onnodig gestraf is en die skuld moes dra vir dinge wat my broer/suster gedoen het. Ek het dit ook elke keer sleg beleef om te moes hoor dat my ander boeties en sussies slimmer en flukser as ek was.

Here, ek onthou ook die nagte wat ek lê en huil het en bang was omdat ek Pappa en Mamma tot laat in die nag hoor rusiemaak het. Dit was vir my ook sleg wanneer Pappa op ons gevloek en geskel het wanneer hy sommige aande half besope by die huis gekom het.

Hoe dikwels wou ek myself verdedig wanneer ek valslik beskuldig is, maar ek is nie die kans gegun om ooit my onskuld te bewys nie.

Daardie kere toe Oupa/Pappa/Oom my as 'n klein dogtertjie betas en seksueel gemolesteer het, lê soos rou sere in my binneste. Vandag nog voel ek vuil en skuldig as ek aan daardie tye terugdink. Ek worstel om op seksuele gebied in my huwelik aan te pas. Dit is nie vir my maklik om seks as iets mooi en as 'n gawe van God te sien nie. Elke toenadering van my maat wek 'n weersin in my op.

Ek vergewe egter vir Pappa en Mamma, Oupa, my broers en susters vir alles wat hulle in my kinderjare aan my gesê of gedoen het wat letsels in my lewe nagelaat het. Ek spreek elkeen van hulle vry in die Naam van Jesus.

Vergewe my ook waar ek by tye verbittering teenoor hulle ervaar het en wraakgedagtes teenoor hulle gekoester het. O, Heilige Gees, genees hierdie wonde in my gemoed. Maak heel dit wat stukkend is.

4.3 Here Jesus, stap ook saam met my deur my skooljare. Herinner my aan onaangename insidente wat gedurende hierdie tydperk van my lewe plaasgevind het en wat my lewe negatief beïnvloed het. Hoe helder onthou ek nog die dag toe Juffrou/Meneer my voor die hele klas verneder het en my soos 'n gek laat voel het. Dit is asof ek nou nog die kinders vir my hoor lag. Dit het baie seergemaak. Om een of ander rede het Meneer ook op my gepik. Ek het gedurig die gevoel gehad dat hy my nie kan verdra nie, en dit het seergemaak.

Ek vergewe egter vandag my onderwysers/esse van harte. Ek vra U ook om my gemoed te genees van hierdie onaangename herinneringe uit my skooldae. (Dink aan nog onaangename insidente en bid spesifiek daaroor.)

4.4 Ek is een van daardie mense wat 'n gebrek het (spraak, gehoor, gesig of een of ander misvorming). Dit was vir my baie sleg dat kinders my gedurig hieroor geterg en met my gespot het. Dit het my met 'n magtelose woede gevul omdat ek niks daaraan kon doen nie. Dit het die spykers van minderwaardigheid dieper en dieper ingeslaan.

Ek vergewe elkeen wat op een of ander wyse met my die spot gedryf het oor my gebrek. Genees asseblief ook die seer wat met die herinnerings aan hierdie onaangename ervarings gepaard gaan.

4.5 Here ek bring ook die onaangename insidente uit my latere lewe na U toe - veral die onaangename herinnerings in my huwelikslewe. (Stel jouself oop vir die Heilige Gees om elke insident helder voor jou te bring wat vir jou pynlik was en skade veroorsaak het in jou verhouding met jou maat.) Ek vergewe veral my huweliksmaat vir die pyn wat hy/sy in my lewe gebring het. Ek vergewe hom/haar vir elke belediging, verwyt, aanranding en vernedering wat ek moes verduur. Ek vergewe my maat dat hy/sy nie altyd teenoor my opgetree het soos hy/sy voor die kansel beloof het nie.

Vergewe my ook vir verkeerde optredes en gesindhede van my kant af. Heel elke wond wat my maat in my lewe veroorsaak het in die Naam van Jesus".

            5. Moontlike bevryding van bose magte.

Soos vroeër in hierdie boekie aangedui is, kan swaar kinderjare en my reaksies op die seer wat my aangedoen is, 'n oop deur vir besetting deur demoniese magte wees. Wanneer daar gebid is om genesing van innerlike wonde, kan dit lonend wees om bevryding op iemand te doen omdat daar demoniese magte aanwesig kan wees wat in die weg van vryheid en heelwording staan.

Bestraf enige demone van verwerping, vrees, haat en verbittering wat van die persoon besit kon geneem het. In geval van seksuele molestering of verkragting mag dit nodig wees dat demone van seks ook aangespreek en in Jesus se Naam bestraf word. Die praktyk het bewys dat daar soms tydens molestering en verkragting demone van die slagoffer besit kan neem. Dit mag wees dat die betrokke persoon geen demoniese probleme as gevolg van emosionele verwonding het nie maar slegs innerlike genesing nodig het. Dit kos in elk geval absoluut niks om net seker te maak nie.

6. Ons moenie 'n verkeerde verwagting hê van 'n gebed vir innerlike genesing nie. Ons moenie reken dat iemand vir wie daar gebid is (of wat self gebid het), geen verdere emosionele pyn gaan ervaar of verkeerde reaksiepatrone gaan openbaar nie. Heelwording van die innerlike is in die meeste gevalle 'n proses van groei en verandering wat in iemand se lewe plaasvind, alhoewel daar tog in sekere areas van die persoon se lewe onmiddellike genesing kan intree wanneer daarvoor gebid word. Verdere berading mag nodig wees.

 

Terug na Indeks

 

 

BEVRYDING VAN BOSE MAGTE  (Agter blad)

Die Bybel leer duidelik dat Satan en sy bose magte 'n werklikheid is. Om mense te bevry van bose magte was juis 'n normale deel van Jesus se aardse bediening.

In hierdie boekie toon die skrywer - 'n leraar van die N. G. Sendingkerk - uit sy praktiese ondervinding van die afgelope 12 jaar aan dat demone nog steeds - soos in Jesus se tyd - die lewens van mense kan beïnvloed. Dit blyk uit die talle voorbeelde wat in die boekie vermeld word.

Hy wys o.a. op die volgende:

wat die Bybel oor demone leer;

hoe demone in mense kan inkom;

dat toordery en vloeke 'n werklikheid is;

wat die simptome van besetting is;

dat selfs Christene probleme kan hê wat demonies van aard is.

Voorts wys die skrywer op die dwaling om, agter elke siekte, sonde of afwykende gedragspatroon, te gaan soek vir 'n bose gees. Hy wys egter tereg daarop dat daar wel lidmate is wat met hierdie tipe probleme rondloop en dat die kerk nie die oë daarvoor mag sluit en maak asof hierdie dinge nie bestaan nie. Bevryding van bose magte behoort 'n integrale deel van 'n gemeente se aktiwiteite te wees - veral in 'n tyd waar daar 'n ontstellende oplewing in okkultiese en satanistiese bedrywighede is.

Hierdie boekie is eenvoudig en duidelik geskryf vir persone wat meer van hierdie onderwerp wil weet maar is ook 'n praktiese handleiding vir diegene wat bevrydingswerk doen. Bevryding van bose magte kan sterk aanbeveel word vir die mediese veld, ouers, skole en kerke.

Kol. Kobus Jonker

Nasionale Hoof

Okkulktverwante Misdaad

SA Polisie Hoofkantoor

PRETORIA.

 

Kontak besonderhede van Ds Piet Du Toit

 

Tel: 042 291 0101

Posbus 47
HUMANSDORP
Suid Afrika
6300

 

 

Terug na bo

 

Hit Counter

 

Non-Profit Organisation Reg. No.: O55-756-NPO

Kopiereg /Copyright : Geen / None

Opdatering / Last update : July 30, 2010